Landbou
Bloednier - seker die belangrikste skaapsiekte
Dr. FAFFA MALAN

Vraag:
Ek wil graag weet of daar op 'n sekere tyd van die jaar spesifiek vir bloednier geënt moet word en of dit nodig is om skape weer te ent as ek die kombinasie-spuitstof gebruik het? Mag dragtige diere met bloednier-entstof ingeënt word? - MagdaKemp (magdak@gcs.co.za)

Antwoord:
Omdat bloednier seker die belangrikste siekte in skape is, verskaf ek graag meer besonderhede oor die siekte.

Die siekte kan voorkom in skape van alle ouderdomme, maar kom meestal voor in lammers in twee ouderdomsgroepe nl.: 3 weke tot 3 maande en dan weer van 6 tot 12 maande. In bokke kom die siekte die meeste voor in melkbokke, maar is ook al gevind in Angoras wat in ekstensiewe omstandighede gewei het. Bloednier is ook al gediagnoseer in beeste van alle ouderdomme, maar kom hoofsaaklik in voerkrale voor.

Bloednier word veroorsaak deur die kiem Clostridium perfringens tipe D wat normaalweg in die dermkanaal van herkouers voorkom. Indien die styselinhoud in die dermkanaal vermeerder, groei die bakterieë teen 'n geweldige tempo en skei 'n gifstof (epsilon-toksien) af. Faktore wat tot bloednier aanleiding gee, is die volgende: As die dermkanaal gaan staan; vinnige verandering in voersamestelling; vinnige verandering van swak tot geil weidings; die sit van skape op aangeplante weidings bv. groen hawer, groen koring, groen lusern; hoë proteïen-dieet; oorvreet; konsentrate; ontwurming en koksidiose. Ander faktore is skielike veranderings in weersomstandighede en verlepte grasse.

Kliniese tekens:
Die perakute (baie vinnige) vorm van bloednier in lammers se verloop is 'n paar uur en lammers word gewoonlik net dood aangetref. Jong lammers van 3 tot 4 weke oud mag kolieksimptome wys, opgeblase wees en dan vrek. Ouer skape vrek ook vinnig en 'n tipiese verskynsel is dat 'n groot aantal skape in die oggend dood gekry word net nadat die skape se voeding verander het.

Daar is ook 'n chroniese (stadige) vorm van bloednier waar die brein aangetas word en die dier senuweesimptome wys. Skape raak verlam, die bene is pap en sommige skape lyk of hulle in 'n koma is. Party skape verloor hulle vrees vir honde en mense.

Daar is ook 'n ander vorm van bloednier. Die dier kan rusteloos ronddwaal, skielike stuiptrekkings kry, lê en skop, die oë rol, tande kners en skuim in die bek kom voor. Die toestand kan vir 'n paar weke aanhou voordat vrektes intree.

In bokke word drie sindrome beskryf: die per akute vorm waar bokke net dood aangetref word. Die akute vorm waar maagwerk ontwikkel en bokke na 2 tot 4 dae of vrek of herstel. 'n Chroniese vorm mag vir weke aanhou en ontwikkel ook 'n maagwerk en bokke verloor gewig.

Nadoodse tekens:
As die skaap so pas gevrek het, lyk die karkas soos dié van 'n pas geslagte skaap. As die skaap al 'n ruk dood is, word die volgende gesien:

  • Bloedings onder die vel veral in die nek area.
  • 'n Jellieagtige vloeistof in die hartsak.
  • Bloedings op die hartspier en diafragma.
  • Die derms is leeg en vol wind.
  • Die longe is geswel en daar is skuim in die lugpyp.
  • Niere kan pap en bloederig vertoon maar dit is nie altyd die geval nie.
  • Die karkas ontbind baie vinnig.
  • As 'n toetsstrokie in die urine geplaas word, wys die resultaat dat daar suiker teenwoordig is.
  • U veearts kan monsters neem om bloednier te bevestig.

    Behandeling:
    As bloednier in 'n kudde voorkom, moet skape dadelik na swakker weiding verskuif word. Verminder die koolhidrate in 'n voerkraal as daar bloednier uitbreke is. Ent skape in teen bloednier (bv. Multivax P, Intervet, G1517; Pulpyvax, Intervet, G2192). Skape kan ook elk 'n teelepel blomswawel gegee word. Spuit skape in met 'n langwerkende tetrasiklien (bv. Reverin LA, Intervet, G 3442) wat die skape vir 'n paar dae sal beskerm.

    Voorkoming:
    Ent dragtige ooie in met bloednierentstof (bv. Multivax P) 4 weke voor lamtyd. Lammers wat gebore word, word deur die biesmelk immuniteit beskerm. Ooie wat nie voorheen ingeënt was nie, moet 2 inspuitings kry, 8 weke voor en nog 'n skraagdosis 4 weke voor lamtyd.

    'n Entstof met 'n olie-djuvant (bv. Pulpyvax 1-shot, Intervet, G2642) kan vir lammers gebore van ooie wat net voor lamtyd met bloednier gespuit is, op 16 week ouderdom gegee word.

    21 Maart 2006