Landbou
Gevare van lusern
JOHANNES KLOPPER

Vraag:
Ons boer in die Ermelo-omgewing. Ons beeste en skape het in die vyf jaar wat ons nou op die plaas is net op die veld gewei met soutlekke as aanvullings. Ons gaan probleme ondervind in die winter met weiding en kan moontlik hulp kry met lusernbale. Ons is nie vertroud met die voer van lusern nie, en wil graag die volgende weet: Kan lusernbale so skoon aan die diere gevoer word of moet dit sê met mielies of iets dergliks gemeng word? Wat is die gevare van gebaalde lusern? Kan dit giftig raak as dit geberg word onder sekere ongunstige omstandighede? Waarvoor moet mens uitkyk in die lusern wat dalk gevaar vir die diere kan inhou, bv., dodder of ander onkruid? Enige ander inligting oor lusern wat van belang mag wees. Ek het reeds op julle webblad artikels gesoek oor lusern, maar nie eintlik enige iets gekry oor die gevare van lusern nie, net promosie artikels en die voordele en statistieke oor lusern. - Pieter Kotze (hester@HDGroup.co.za)

Antwoord:
1. Kan lusernbale skoon aan diere gevoer word? Ja, beslis, vermorsing bly altyd 'n probleem en dit is wenslik dat bale gemaal word.

2. Wat moet saam met dit gevoer word? Lusern is hoog in proteïen en dit sal dus wenslik wees om 'n energiebron by te voeg, bv. mielies en/of molassemeel. Die diere se produksiestatus sal egter bepaal wat bygevoeg moet word bv. of jy diere wil afrond, vir 'n onderhoudrantsoen of vir 'n melkery.

3. Gevare van gebaalde lusern? Verseker dat die lusern droog is tydens die baalproses. Indien nie kan spontane ontbranding plaasvind. Neem dit in ag voordat bale in 'n skuur gepak word. Indien bale natreën sal 'n groot gedeelte muf, wat inname drasties sal beïnvloed asook diereproduksie. Goed gebaalde lusern met die regte voginname kan egter verskeie seisoene geberg word.

4. Onkruid in bale? Daar bestaan altyd 'n moontlikheid dat ongewenste onkruid ingebring kan word. Deur die bale te maal, word die verspreiding hievan geminimaliseer. Bale kan nie gevrywaar word van dodder en ander onkruide nie. Die boer moet egter elke vrag wat hy ontvang, inspekteer en kyk vir abnormaliteite. Die meeste lusernbale is gewoonlik vry van snaaksighede en 'n uitstekende ruvoerbron.

Kontak my vir enige vra oor lusern!

  • Johannes Klopper, NWKV, Ermelo (082 880 6137)

    27 Maart 2006