Landbou

'n Foto van die vratjies aan die kalwers se spene.
Soortgelyk
Vratte op spene
Dr. FAFFA MALAN

Vraag:
Van my koeie (vleisbeeste) se spene is met vratjies besmet. Ek het hulle met antibiotika ingespuit - 3 keer per week vir twee weke lank, maar dit het niks gehelp nie. Kan u my asseblief van raad voorsien. - Lourens Viljoen (ViljoeLJ@telkom.co.za)

Antwoord:
Vratte is goedaardige kankervergroeisels van die vel en slymvliese en word deur papillomavirusse veroorsaak. Die virusse is spesiespesifiek en in beeste is daar tans 6 tipes virusse, wat vratte veroorsaak, bekend.

Die oordraging van virusse vind gewoonlik van bees tot bees plaas deur kontak waar daar beserings op die vel en slymvliese voorkom. Oordraging van die virus deur insekte is ook moontlik. Koeie wat vratte op hul spene het, kan die virus aan hul kalwers oordra deur die melk of wanneer hulle suip.

Die virusse is baie bestand teen uitdroging en daarom kan die omgewing, soos pale, toue en instrumente ook met die virus besmet raak en ander diere indirek aansteek.

Diere kan op 'n baie jong ouderdom reeds besmet raak. Die infeksie kan vir 'n lang tyd latent bly en eers later aktief raak. Vratvirusse is ook al gekry in perde, donkies, muile, skape en bokke.

In beeste word vratte op die vel van veral die kop en nek gekry, maar kan ook in die boonste slymvliese van die dermkanaal, asook op die slymvliese van die penis en skede voorkom. Die periode vandat die dier met die virus besmet raak totdat vratte voorkom, is gewoonlik ongeveer 3 tot 4 maande. Die vratte kan na 'n jaar verdwyn as die dier immuniteit opbou.

Indien die dier se immuniteit verswak, kan sommige vratte in kwaadaardige gewasse oorgaan. Ons sien dit gewoonlik by vratte in die oog, vulva, dermkanaal en blaas. Blootstelling aan sonlig kan ook 'n rol speel.

Beheer:
Gewoonlik is geen behandeling nodig nie, maar soms is daar uitbreke in kuddes en dan moet diere uitgeskot word. Erge vratte op die spene en uiers kan tot mastitis lei. Die vratte kan uit- of afgesny word, indien moontlik. Van die oorblywende vratte word stukkend gedruk sodat die dier se liggaam van die virus in die bloedstroom kan opneem en die immuunstelsel sodoende teen die virus kan reageer.

'n Entstof teen die spesifieke virus(se) wat die vratte veroorsaak, kan deur die plaaslike veearts of deur laboratoriums wat in entstowwe spesialiseer, vervaardig word. Vratte kan met ontsmettingsmiddels skoongemaak word, afgesny word en in 'n botteltjie versend word na: Design Biologix, WNNR, Pretoria, of bel Pieter Smuts by 083 229 9322.

  • Geskryf deur: Dr Faffa Malan, Intervet.
    (Bron: Infectious Diseases of Livestock, Coetzer J.A.W.; Tustin R.C.)

    14 Augustus 2006