Landbou
Bloednier by skape
Dr. MARIJKE HENTON

Vraag:
Is daar verskillende tipes "bloednier" in skape? Indien wel, word die siekte net deur Clostridium perfringens D veroorsaak? - Louis Fourie (ljfourie@vodamail.co.za) Antwoord:
Bloednier word slegs deur die toksien (gifstof) van Clostridium perfringens tipe D veroorsaak. Hierdie kiem kom algemeen voor en kan maklik in 'n laboratorium gekweek word. Dit vermenigvuldig ook maklik in karkasse, omdat dit eintlik een van die verrottingskieme is.

Bloednier staan bekend as een van die siektes wat skielike vrektes in skape veroorsaak, maar daar is baie ander redes vir skielike vrekte, veral virussiektes en plantvergiftiging. Om 'n korrekte diagnose van bloednier te maak, behoort die geval deeglik deur 'n veearts ondersoek te word, die toksien van bloednier moet aangedui word en 'n mens moet bewys dat die skaap nie teenliggame teen bloednier het nie. Selfs 'n minimale vlak van teenliggame teen die toksien beskerm 'n skaap teen die toksien wat in die derm gevorm word.

Hierdie deeglike manier van diagnose is tydrowend en baie duur, en word selde in sy geheel uitgevoer.

Dit lei tot die gevolg dat bloednier gereeld verkeerdelik gediagnoseer word, veral as slegs die skielike vrekte onder skape aan bloednier toegeskryf word. C. perfringens kan ook maklik in 'n laboratorium van 'n effens verrottende karkas geïsoleer word, maar die isolaat het nie noodwendig toksien geproduseer nie. En derdens, al kan toksien aangedui word, mag die skaap deur inenting volledig teen die toksien beskerm wees.

Bloednierentstowwe wat in Suid-Afrika beskikbaar is, gee almal baie goeie beskerming teen die toksien van bloednier, mits hulle korrek aangewend word.

  • Geskryf deur dr. Marijke Henton, Golden Vetpath (maryke@goldenvetlab.co.za)

    25 Augustus 2006