Vraag:
Kan ek slegs een keer per jaar teen bloednier ent, bv. met skeertyd, of moet ek daarteen ent elke keer wanneer die voeding van die skaap verander word? - Alfons Ferreira (alfonsf@vkb.co.za)
Antwoord:
Inligting oor bloednier by skape is reeds beantwoord in antwoord nommer 1902352 "Bloednier - seker die belangrikste skaapsiekte" (22/3/2006). Belangrike inligting is ook te lese in dr. Marijke Henton se antwoord oor bloednier (1988394 van 25/08/2006).
Om op te som: Bloednier word veroorsaak deur 'n gifstof (epsilon-toksien) wat deur die kiem (bakterie) Clostridium perfringens tipe D afgeskei word. Entstof teen bloednier word gewoonlik jaarliks herhaal nadat 'n aanvanklike eerste inenting - opgevolg deur 'n skraagdosis een maand later - toegedien is. Dit blyk egter uit die voorkoms van uitbreke dat sekere distrikte of plase 'n baie strawwer blootstelling aan bloednier het as ander.
Baie boere ent nou twee maal per jaar teen bloednier, as volg:
Entstof word toegedien 4 - 6 weke voor die lamseisoen begin (sodat die komende lammers genoegsame bies-immuniteit verkry), asook 'n tweede inenting ses maande later met slegs Pulpyvax (G2192; Wet 36/1947) wat alleenlik teen bloednier werk en daardie immuniteit skraag.
28 Augustus 2006