Landbou
Vleisbeessiektes in die Wes-Kaap
Dr. JOHN LIEBENBERG

Vraag:
Ek wil weet watter algemene siektes by vleisbeeste voorkom in die Wes-Kaap, die Malmesbury-area en of hartwater ook daar voorkom? - Eugene Taylor (E.meerkat@hotmail.com)

Antwoord:
Die volgende siektes kom sporadies by vleisbeeste in die Wes-Kaap voor:
Siektes wat deur bakterieë (kieme) of hulle gifstowwe veroorsaak word:

  • Lamsiekte word veroorsaak deur Clostridium botulinum gifstof, wat in ou bene, karkasse of hooi met 'n hoë proteiën inhoud kan voorkom. Diere word siek as hulle hierdie gifstof inneem en vrek dan.
  • Brusellose word veroorsaak deur Brucella abortus kieme. Dragtige diere mag aborteer en ook draers van die siekte bly. Mense kan ook die siekte opdoen.
  • Sponssiekte en kwaadaardige edeem word veroorsaak deur Clostridium kieme. Die kieme vorm spore en kan vir lang periodes in die grond bly lewe. Diere wat die siekte opdoen, ontwikkel sponsagtige letsels in die spiere en selfs die haarslag. Die aangetaste dele ruik soos vrot botter en die diere vrek gewoonlik vinnig. Die siekte kom baie sporadies voor in die Weskaap.
  • Miltsiekte word veroorsaak deur die kiem Bacillus anthracis. Die kieme vorm ook spore en kan ook vir jare in die grond bly lewe. Diere vrek en daar is bloed wat by al die openinge uitloop. Mense kan ook die siekte opdoen. Hierdie is 'n beheerde siekte en inenting is verpligtend.
  • Aansteeklike oogontsteking veroorsaak deur Moraxella bovis mag ook op sekere plase voorkom en word deur stof en insekte versprei.

    Siektes wat deur virusse veroorsaak word:

  • Knopvelsiekte kan gediagnoseer word deur die tipiese knoppe wat op die vel van die bees voorkom. Die siekte word deur insekte (muskiete en muggies) oorgedra en kom veral in nat toestande voor.
  • Drie-dae-stywesiekte word ook deur muggies oorgedra en kom ook net sporadies voor gedurende baie nat jare. Soos die naam van die siekte aandui word diere styf.
  • BVD (Bees virus diarree) wat die immunsisteem van diere onderdruk, kan op sommige plase 'n probleem wees. 'n Verlaagde kalwingpersentasie en swak kalwers wat gebore word, mag 'n aanduiding van die siektetoestand wees.

    Siektes wat deur protosoë veroorsaak word:

  • Bosluisoorgedraagde galsiekte (anaplasmose) word oorgedra deur blou bosluise en bytende vlieë en selfs deur inspuitnaalde en ander apparate soos oorplaatjietange.
    Beeste ontwikkel bloedarmoede, geelsug en hardlywigheid.

    'n Algemene immuniserinsprogram kan as volg daar uitsien, maar die beste is om die program met u plaaslike veearts te bespreek.
    6 maande ouderdom: Ent teen Miltsiekte, Sponssiekte, Lamsiekte en Knopvelsiekte.
    7 maande ouderdom: Ent teen Sponssiekte, Lamsiekte (skraagdosis) en Brusellose (verse).
    Jaarliks: Miltsiekte, Sponssiekte, Lamsiekte en Knopvelsiekte.

    Bespreek met u veearts of u moet immuniseer teen BVD, aansteeklike oogsiektes, Anaplasmose en ander geslagsiektes wat nie hier bespreek is nie.

    Die laaste gedeelte van u vraag: Hartwater word oorgedra deur die Bontbosluis (Amblyomma hebraeum) wat nie tans in die Wes-Kaap voorkom nie. Met globale verwarming is enige iets egter moontlik.

    Vir meer inligting oor die siektes hierbo bespreek, kyk na ander vrae op Vra vir Faffa.

  • Geskryf deur dr. John Liebenberg, 'n private veearts van Malmesbury. (E-pos: mdh@telkomsa.net en selnommer: 083 658 3148)

    26 Oktober 2006