Vraag:
Daar het onlangs op die Gespreksforum op Landbou.com 'n bespreking plaasgevind oor watter hulpmiddels tans beskikbaar is om dragtigheid te bepaal. Daar is ook tans ander apparate beskikbaar wat van hulp kan wees en ek het vir dr. Brand Anema gevra om meer inligting te verskaf. - Dr. Faffa Malan.
Antwoord:
Elektroniese toestelle vir die bepaling van dragtigheid by diere
Ultraklank-tegnologie word deesdae gebruik vir dragtigheidsondersoeke by diere.
Twee soorte sondes (probes) is beskikbaar, een wat uitwendig gebruik word - die sonde word teen die buik gedruk en die ander is 'n inwendige sonde wat vir rektale skandering ontwikkel is. Die sonde word aan 'n sonarmasjien gekoppel wat die refleksie van die ultraklank-strale interpreteer en omskakel in 'n beeld wat op 'n skerm verskyn. Daar is ook 'n eenvoudiger en goedkoop masjien op die mark wat dragtigheid outomaties identifiseer en dit rapporteer deur 'n liggie wat flits of deur 'n spesifieke klanksein te gee.
Veeartse is uit die aard van die saak op die hoogte met anatomiese en fisiologiese besonderhede en kan gevolglik volle gebruik maak van ultrasonagrafie. By beeste en perde kan die fetus soms te ver wees en moet 'n mens die organe met die hand manipuleer en betas. Daar is egter wêreldwyd vele boere wat van dié tegnologie gebruik maak.
Hitte (estrus) toetser
Wetenskaplike proewe waarmee jare gelede al begin is, het bevestig dat die elektriese konduktiwiteit van vaginale slym normaalweg 'n laer lesing gee wanneer 'n koei op hitte is. Die tegnologie is mettertyd vasgevang in 'n instrument wat prakties bruikbaar is en omdat die bevestiging van hitte so 'n integrale deel van die sukses van kunsmatige inseminasie is, kan die instrument van betekenisvolle ekonomiese waarde wees.
'n Elektroniese toetser vir mastitis
Moderne melkmasjiene toets outomaties die elektriese geleidingskoëffisiënt van melk wat deur die masjien vloei waarna rekenaarprogramme die lesing vir elke koei aantoon, sowel as afwykings per koei met die doel om mastitis in 'n baie vroeë stadium te diagnoseer.
'n Handmodel wat die geleidingskoëffisiënt vir elke kwart op 'n ingeboude skermpie aantoon, is deesdae beskikbaar wat dié tegnologie ook aan boere beskikbaar stel wat nie die nuutste in melkmasjiene en sagteware het nie.
1 November 2006