Landbou
Opblaas van Merino's op lusernweiding
Prof. NEIL FOURIE

Vraag:
Ek ondervind gereeld opblaasprobleme met my Merino-ooie op lusernweidings. Alle moontlike oplossings soos bv. swael, hypo in water en gee van ruvoer word probeer, maar die problem duur voort. Wat vir my verder snaaks is, is dat opblaas op sekere lande erger is as by ander. Is dit moontlik dat die grondtipe iets daarmee te doen kan hê? - J. H. Bisschoff (shanks@steynsburg-sa.co.za)

Antwoord:
Daar bestaan baie verkeerde opvattings oor opblaas op veral lusernweidings en dit is belangrik dat ons die regte kennis moet hê om die probleem te bestuur.

In hierdie geval het die boer probeer om die skape met swael en hypo te behandel. Swael en hypo word gebruik vir die behandeling en voorkoming van blousuur (sianied in plante) vergiftiging. Lusern bevat nie blousuur nie!

Die opblaas deur lusern en ander plante wat skuimopblaas tot gevolg het, word veroorsaak deur veral oplosbare proteïene, en moontlik saponiene (plantbestanddeel wat skuim as dit in water geskud word), wat in plante voorkom. Jong, vinnig groeiende lusern het selwande wat baie dun is en vinnig verteer. Dit het tot gevolg dat die oplosbare proteïne teen 'n vinnige tempo in die grootpens vrygestel word met gevolglike skuimopblaas. Indien die grootpens in 'n proses van baie aktiewe fermentering is, soos wanneer ander koolhidrate saam gevoer word, sal dit die skuimopblaas proses aanhelp. Diere moet dus nie hoë koolhidraat-lek of ander kragvoer ontvang as hulle op lusern gaan wei nie.

Opblaas kan verhoed word deur middels te voer wat die skuim sal laat opbreek. Die bekendste middel is poloksaleen (Bloat Guard Drench, Pfizer (G1026) en Bloat Guard Feed Top-Dressing, Virbac (G1027). Dié middels kan voor die tyd aan skape gedoseer word of in 'n lek geformuleer word. Probeer om die jong, vinnige groeistadium van die lusern te vermy. Indien die diere voldoende ruvoer vreet voor hulle op die lusern weiding gaan, sal dit ook die opblaas verminder. Hoë druk weiding op 'n klein area sal ook skape dwing om die hele plant te vreet en nie net die dele met hoë proteïne en sagte wande nie.

Grondtipe kan dus 'n baie belangrike rol speel want dit sal die geilheid en proteïeninhoud van die plant beïnvloed.

Opblaas is 'n komplekse sindroom want individuele diere binne 'n trop kan ook meer geneig wees om skuimopblaas te kry. Daar is ook gevind dat die bakteriese samestelling in die grootpens ook 'n rol mag speel.

Klik op die onderstaande skakels om meer oor die onderwerp te lees. Dit is artikels wat reeds op Vra vir Faffa gepubliseer is:
1905376 Gevare van lusern 29/5/2006.
1699692 Opblaas van ooie en lammers op lusern 27/3/2006.
1662701 Beeste blaas op van lusern 27/3/2006.

  • Geskryf deur Prof. Neil Fourie, Intervet (neil.fourie@intervet.com)

    5 Februarie 2007