Vraag:
Goeie dag dr. Van Wyk,
My naam is Hein Rademan en ek het u naam op die Internet bekom uit 'n artikel oor die FAMACHA-kaart deur dr. Faffa Malan, Intervet, op 2 September 2006.
Ek is 'n stadsjapie (ook van Pretoria - ook 'n Tuksman van 'n klompie jare terug) wat besig is op 'n baie klein skaal 'n boerdery aan die gang te sit tussen Parys en Fochville. Ek het vir my kwaliteit geregistreerde Wit Dorpers (5 dragtige ooie en 'n pragtige ram) aangekoop en wil graag die kudde uitbrei.
Ek leer baie oor die Internet en by my bure, maar is maar nog bra onkundig as dit by siektes en dosering ens kom. Ek wil daarom vir u vrae hoe ek tewerk kan gaan om die FAMACHA-kaart stelsel aan te skaf en ook indien nodig, die opleiding daarvoor. Hoewel die diere tans gesond is, sal ek graag wil verseker dat dit so bly.
Enige ander raad en inligting sal hoog op prys gestel word. - Hein Rademan (hein@directit.co.za)
Antwoord:
Eerstens stel ek voor dat jy by Landbouweekblad se "Gespreksforum" aansluit want daar word baie dinge bespreek wat van algemene belang vir boerdery is. Daarby is die landbou.com-webblad, met veral die onderdeel "Vra vir Faffa". Dit is 'n afdeling van dr. Faffa Malan, die persoon wat eerste die idee gehad het om die kleur van diere se slymvliese te gebruik om die graad van bloedarmoede wat deur wurmbesmetting veroorsaak word, te evalueer. Daar is reeds heelwat oor wurmbeheer en die gebruik van die FAMACHA-stelsel op die web. Die derde hooflid van die span is prof. Gareth Bath, ook van ons Fakulteit. Hy is die een wat die idee 'n naam en struktuur gegee het.
Ek dink die beste weg om te volg om deel van LBW-gespreksgroep en die web te word, is om vir Jan Bezuidenhout te kontak (jbezuide@landbou.com).
Omdat die FAMACHA-stelsel spesifieke vereistes en beperkinge het wat bekend moet wees voordat mens dit doeltreffend kan toepas, laat ons nie toe dat dit sonder die nodige opleiding versprei word nie. Ek is deesdae selde by lokale opleiding betrokke en het ook nie die fondse om veel daarby betrokke te kan wees nie, behalwe wanneer dit in verband met 'n buite-befondsde projek staan. Dr. Malan reël per geleentheid opleiding op verskillende plekke in die land, en ek stel voor dat jy by hom uitvind of daar eersdaags weer so-iets sal wees. Prof. Bath sal ook laat weet as hy van iets weet.
Groete en sterkte met jou boerdery. Ek hoop dat jy in gesprek is met veekundiges oor die teelt van die skape, want sover ek (as totale leek op die gebied) verstaan, is dit baie moeilik om met so min diere genetiese vordering te maak as dit nie baie versigtig benader word nie.
9 Maart 2007