Parasietbeheer by wild
Dr. SUNELLE STRYDOM en prof. IVAN HORAK
Vraag:
Ek benodig meer inligting aangaande parasietbeheer in my blouwildebeeste en ander wild. - Hannes (olckers@mweb.co.za)
Antwoord:
Die balans tussen eksterne- en interne parasiete en wild
Die balans tussen parasiete en hul gashere is baie delikaat. Die versteuring van die omgewing deur byvoorbeeld die indeel van die omgewing in kleiner kampe en die skuif van diere met hulle parasiete na areas waar hulle nie histories voorgekom het nie, het die balans tussen wild en parasiete versteur en veroorsaak dat die natuur nie meer vir homself kan sorg nie.
Parasietprobleme ontstaan in die algemeen wanneer die gasheer vir die eerste keer in 'n nuwe omgewing geplaas word. Enige stres verlaag die dier se immuniteit en kan lei tot verhoogde eksterne- en interne parasietladings wat verskeie skadelike nagevolge kan hê. Stresfaktore sluit beserings, siekte, wanvoeding en mineraaltekorte, vang en of immobilisering en vervoer, verwydering van 'n dier vanuit die teelkudde, klein kampe met baie hoë diergetalle wat lei tot oorbeweiding en omgewingskonflik, in.
Hoeveel opgiet-dipmiddel word benodig?
Duncan Applicators & AppliGators (Patent No. 98/8619) werk onafhanklik van die dier se gewig wanneer die dier teen een van die apparate kom skuur as die dier kom eet of water drink, word 'n nie-spesifieke hoeveelheid opgiet-dipmiddel teen die nek area toegedien
Die Tick-off se drukplaat word onder die grond begrawe en 'n hoeveelheid opgiet-dipmiddel volgens die dier se gewig word op die dier gespuit wanneer die dier oor die drukplaat loop
Die rede waarom opgiet-dipmiddels in wild gebruik word, is om te help om die eksterne parsietladings te beheer sodat die wild saam met die parasiete kan leef.
Intervet opgietmiddels wat geregistreer is vir wild?
Delete All (Reg No. G 2837 / Wet 36 / 1947) Aktiewe bestanddele is amitras, deltametrien en piperoniel butoksied. Amitras mag nie in perde gebruik word nie aangesien dit die verlamming van die derms tot gevolg kan hê. Daarom sal ek die gebruik van amitras by sebras en renosters (perde spesies) nie aanbeveel voordat meer werk gedoen is om te bewys dat dit veilig is om amitras te gebruik nie.
Delkol (Reg No. G 3550 / Wet 36 / 1947)Aktiewe bestanddele is deltametrien en piperoniel butoksied.
Waar moet die opgietmiddels aangewend word in wild?
Volgens die registrasie van die opgietmiddels, moet dit op die ruglyn aangewend word.
Met die Duncan Applicator en die AppliGator (Patent No. 98/8619), word die opgietmiddel op die wild se nek aangewend.
Met die Tick-off toedieningstoestel word die dip meestal onder die dier se pens aangewend.
Dit is nie nodig vir die opgietmiddel om op die diere se bene gespuit te word nie.
Dit is ook nie nodig om die opgietmiddels op albei sye aan te wend nie.
Ek sal nie aanbeveel dat daar opgietmiddel op die wild se koppe gespuit word nie indien die diere skrik, lei dit tot 'n onaangename ondervinding en die diere sal in die vervolg die area waar dit plaasgevind het, vermy.
Verspreiding van middels word ook verder aangehelp deur diere wat teen mekaar skuur asook diere met langer sterte wat help om die middel te versprei.
Verwisseling van opgietmiddels
Weerstand is die vermoë van 'n bosluis om die effek van 'n dipmiddel waarteen dit van te vore sensitief was, te oorkom.
Weerstandsontwikkeling kan nie voorkom word nie, maar kan wel vertraag word dmv goeie bosluisbestuursbesluite. Bloubosluise wat 'n eengasheerbosluis is, is die spesie wat die ergste weerstand toon.
Om die ontwikkeling van weerstand te vertraag, moet daar by een aktiewe bestanddeel gehou word totdat weerstand bevestig is. In wild sal dit egter nie moontlik wees om volgesuigde bosluiswyfies te versamel en hulle te toets vir weerstand nie. Hou dus by een aktief totdat dit voorkom asof die aktief nie meer effektief is nie.
Kan ivermektiene wat geregistreer is vir toediening dmv onderhuidse inspuiting, op die vel aangewend word?
'n Produk se formulasie bepaal teen watter toedieningsroete dit effektief werk.
'n Produk wat dus geregistreer is vir onderhuidse toediening sal nie gebruik kan word as 'n opgietmiddel nie.
Vir 'n produk om effektief te wees as 'n opgietmiddel, moet dit 'n oliebasis hê sodat dit effektief kan versprei.
Daar is tans 'n ivermektien-opgietmiddel op die mark wat geregistreer is vir wild.
Die gebruik van beeste om bosluise in wildskampe te beheer
Beeste kan met 'n dipmiddel behandel word (die sintetiese piretroïde soos bv deltametrien- Delete-X 5 Reg No. G 3279) en dan 'n hoogs besmette bosluiskamp vir 'n ruk bewei om so veel as moontlik bosluise op te tel. Die beeste dien dan as "stofsuiers" om die bosluislading in die kamp te verlaag.
Dit is egter belangrik om te onthou dat wild as draers van sekere siektes dien wat van wild na beeste oorgrdra kan word, byvoorbeeld wildebeest wat draers van snotsiekte is.
Redes waarom wild in die stof rol?
Dit is normale gedrag.
Die algemene rede waarom diere, veral voëls in die stof rol is om te help met die beheer van eksterne parasiete.
Die gedrag is nie noodwendig 'n aanduiding dat die diere jeuk nie.
Die gebruik van opgietmiddels of ivermektiene deur die sand nat te maak daarmee?
Meeste van die middels word afgebreek deur sonlig en dit sal dus 'n vermorsing van geld wees.
Sekere aktiewes of chemiese groepe is ook skadelik vir voëls, visse en bye.
Het aalwyn enige effek op bosluise?
Gekontroleerde proewe is gedoen en geen effek kon gekry word om aan te toon dat aalwynpoeier bosluise beheer nie. Sien antwoord 1869378 Help aalwyn teen bosluise? 25/1/2006.
Die gebruik van wildslekke met ontwurmingsmiddels in?
Weereens is die doel daarvan om te help om die interne parasietlading te verlaag.
Die probleem is dat party van die wildsbokke nie van die smaak hou nie.
Ek is nie seker of die produkte verval of nie indien dit verval, moet daar 'n vervaldatum op die produk aangedui word.
Panacur 4% (Reg No. G 169 / Wet 36/1947) kan ook met byvoorbeeld melasse gemeng word en oor lusern gespuit word vir ontwurming of in voerpille bygevoeg word. U veearts sal u kan help om die korrekte dosis te bereken.
Die probleem is weer eens dat daar geen beheer is oor die hoeveelheid ontwurmingsmiddel wat elke dier inkry nie.
Indien wild geïmmobiliseer word, sal wildsveeartse as deel van 'n standaard prosedure, die wild met 'n middel wat ivermektien bevat, spuit.
Geskryf deur: Dr. Sunelle Strydom, Intervet en prof. Ivan Horak, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria.
Bronne:
Zieger U & Cauldwell A. 1998. Wildlife ecology & management. Practical aspects for Zambian game ranches. Business print centre.
16 April 2007