Landbou
Henne vreet mekaar
Dr. MICK VERSFELD

Vraag:
Waarom vreet ons lêhenne mekaar en wat kan ons doen om dit te keer? - Buks Nel (kobie@rnsonline.co.za)

Antwoord:

Kannibalisme: Redes, voorkomende maatreëls en behandeling
Henne begin mekaar pik as hulle stres ondervind of as daar bestuursprobleme voorkom. Die probleem ontwikkel gou in 'n gewoonte en daarom moet vroegtydig opgetree word om te verhoed dat al hoe meer henne beskadig word.

Die volgende oorsake kan lei tot kannibalisme:

  • Te min ruimte vir die henne.
  • Dit is te warm in die hokke.
  • Die lig in die hokke is te helder.Dit kan ook wees dat die ligte te lank aangeskakel bly. Ligte behoort nooit vir langer as 16 uur aan te bly nie.
  • Geen kos of water, of te min plek vir die henne om by die kos en water uit te kom.
  • Ongebalanseerde rantsoene. Te min sout of proteïne kan veroorsaak dat henne mekaar begin pik. Onthou dat as daar enige ekstra bestanddeel by die rantsoen gevoeg word, die rantsoen nie meer voldoende mag wees nie.
  • Indien henne met verskillende kleur vere in een hok gehou word.
  • Te min ruimte om eiers te lê.

    Behandeling:

  • Sorg dat die rantsoen geskik en gebalanseerd is. Veral die sout- en proteïenvlakke moet korrek wees vir lêhenne. Wanneer die henne begin om mekaar te pik, kan ekstra sout by die drinkwater gevoeg word. Die hoeveelheid sout moet egter nie die water se smaak aantas nie. Voeg die ekstra sout vir een of twee dae by.
  • Sorg dat die lig nie te helder is nie.
  • Verwyder enige beseerde henne. Behandel enige beseerde henne met "Stockholm Teer."
  • Sorg dat daar altyd genoeg ruimte is vir die henne.
  • Plaas papiersnysels wat deur 'n snippermasjien opgesny is in die hok. Die henne speel en skrop daarin en los mekaar uit. Selfs 'n paar koolblare kan vir 'n paar dae gebruik word om die henne se aandag van mekaar af te trek.

  • Geskryf deur: Dr. Mick Versfeld, pluimveekonsultant. E-pos: mickversfeld@mweb.co.za

    2 Mei 2007