Landbou
Teef eet van werpsel
Dr. QUIXI SONNTAG

Vraag:
Ek het 'n Boston Terriër. Sy het sewe kleintjies gehad. Almal was op die oog af heeltemal normaal en sy het almal aanvaar en versorg. Dieselde aand wat hulle gebore is, het sy al sewe afsonderlik gaan begrawe. (Ek weet nie of hulle dood was toe sy dit gedoen het nie) Later die aand het sy ons wakker getjank en ons het ondersoek gaan instel. Ons het na die kleintjies begin soek en toe het sy een uitgegrawe en hom opgeëet. Hoekom het sy dit gedoen? Haar optrede ontstel my en ek wil eerder van haar ontslae raak. - Martie (jacotis@webmail.co.za)

Antwoord:
Tewe eet soms hulle kleintjies weens 'n vorm van angstigheid wat hulle ervaar rondom die geboorteproses. Bullterriërs is nogal bekend hiervoor, maar dit kom in ander rasse ook voor. Gewoonlik sal sulke tewe dit weer doen, dus is dit beter om haar te steriliseer tensy die kleintjies onmiddellik na geboorte weggeneem kan word en deur 'n honde-pleegmoeder grootgemaak kan word. Soms werk dit om vir die teef angswerende medisyne te gee direk na geboorte vir 'n paar dae, saam met aanhoudende monitering.

Die begrawe van die kleintjies kon dalk gebeur het omdat die kleintjies swak was (dalk het die teef nie genoeg melk gehad nie) en reeds dood was. Die opeet van kleintjies wat reeds dood is, is 'n instinktiewe gedrag wat waarskynlik gestimuleer word deur oorlewingsinstink - dooie kleintjies kan kos wees vir ander prooidiere, wat dan deur die karkassie na die nes aangelok word. Die verwydering van die karkas beskerm dus die res van die werpsel.

Dit kan ook wees dat sy die hele werpseltjie na 'n nuwe nes geskuif het omdat sy om een of ander rede nie gelukkig was met die oorspronlike nes nie en nie besef het dat die grond hulle sou versmoor nie (dus 'n oordrewe natuurlike instink).

My aanbeveling sou wees dat jy die tefie laat steriliseer en haar nog steeds die liefde en aandag gee waarvan sy afhanklik is. Onthou dat sy 'n dier is wat volgens haar instinkte optree en ons moet dit aanvaar, al is diere-instinkte soms vir mense grillerig of grusaam. Sy doen dit nie uit kwaadwilligheid nie - moet haar dus nie veroordeel nie!

  • Geskryf deur: Dr. Quixi Sonntag (BVSc)(Hons), EduPet Veterinary Consulting, Posbus 100689, Moreleta Plaza 0167. Tel +2712 480 2021, faks 0866 890 445. www.edupet.co.za

    11 Mei 2007