Vraag:
Ek wil Dorpers op lusern laat wei, maar het al amper my vingers verbrand met opblaas, alhoewel die skape dikgevreet was aan gemaalde droë hawerhooi. Is daar 'n manier of middel om dit te voorkom of sal ek maar die lusern moet uitploeg en 'n meerjarige raaigras saai? Ek boer tussen Robertson en Worcester. - Roelf du Preez (roelf@boncap.co.za)
Antwoord:
Daar het al 'n hele paar antwoorde oor opblaas op Vra-vir-Faffa op hierdie webwerf verskyn. Klik op die opskrifte hieronder om die artikels te lees:
1662701 Beeste blaas op van lusern
1699692 Opblaas van ooie en lammers op lusern
2064646 Opblaas van Merino's op lusernweiding
Ek het vir dr. Jasper Coetzee van Voermol, ook om verdere kommentaar gevra. Hy sê:
Daar moet eers vasgestel word of dit opblaas a.g.v. geilsiekte (blousuurvergiftiging) of skuimopblaas is. Met geilsiekte gooi ons Hypo in die drinkwater om dit te beheer. Indien dit
egter skuimopblaas is, moet Bloat Guard Voerbolaag van Virbac gevoer word. Skape moet daagliks ongeveer 3 tot 5 g Bloat Guard met behulp van 'n lek of saam met 'n voer gevoer word.
Maak seker dat die skape nie net die pitte van die hawerhooi gevreet het nie, wat suurpens (asidose) tot gevolg het en wat op sy beurt ook opblaas kan veroorsaak.
Geskryf deur: Dr. Faffa Malan, Intervet.
1 Julie 2007