Vraag:
Hoe weet ek wat die regte hoeveelheid melkinname vir die kalwers en lammers is? Wanneer moet ek die eerste dosering en entstof toedien? Het hulle op veiling gekoop en is baie swak. Is Surromel reg of moet ek iets anders gee? Die een kalf wat ek gekoop het, het 'n vreeslike rammel in die bors. Dit klink asof dit op die longe is en hy drink swak - wat kan ek doen? - Joe (zxavier@telkomsa.net)
Antwoord:
Algemene resep
'n Algemene resep wat gebruik kan word vir die grootmaak van hanskalwers en hanslammers is:
1 liter volroom koeimelk
250ml room
1 x eiergeel (dit is belangrik dat dit net die geel is - die wit veroorsaak diarree)
1 lepel glukosepoeier
Vir hierdie algemene resep, word daar aanbeveel dat die kalwers en lammers 10 tot 15% van hul liggaamsmassa per dag kry bv 'n kalf wat 10kg weeg moet 1liter per dag kry, opgedeel in 4 tot 6 voedings van 250 tot 167ml per voeding. Die hoeveelheid glukosepoeier moet aangepas word by die kondisie van die kalf of lam. Swak kalwers of lammers sal bietjie meer glukosepoeier benodig. In sterker diere kan te veel glukosepoeier lei tot diarree.
Surromel
Wat Surromel van Clover betref, is daar verskillende formulasies vir kalwers en lammers. Indien die verkeerde formulasie gebruik word, kan dit lei tot diarree. Diarree in jong lammers en kalwers lei baie vinnig tot dehidrasie en kan baie vinnig vrektes tot gevolg hê. Hier is die samestelling en menginstruksies van die verskillende formulasies.
Om meer oor Surromel te lees, gaan na cClover se webwerf by www.clover.co.za en doen 'n soektog met die woord Surromel, of klik hier.
Indien vars melk op die plaas beskikbaar is, moet prysvergelykings gedoen word om vas te stel wat vir die boer die mees ekonomiese is: Vars melk of melkplaasvervangers?
Belangrike punte by beide Surromel en die algemene resep
By die gebruik van die algemene resep of enige ander van die melkvervangers is die volgende baie belangrik:
Longontsteking weens aspirasie (vreemde stowwe wat in die longe beland)
Wanneer lammers of kalwers bottel gegee word, kan hul maklik van die melk aspireer (die melk word ingeasem in die longe in plaas daarvan om gesluk te word). Dit lei tot longontsteking. Dit is dus belangrik dat lammers of kalwers nie geforseer word om te drink nie, aangesien dit die kanse van aspirasie verhoog. Hulle kan gestimuleer word om te drink deur die speen teen die verhemelte te druk. Longontsteking weens aspirasie kan behandel word met Disulfox L.A. (Reg No. G3212/Wet 36/1947) of Engemycin 10% (Reg No. G2470/Wet 36/1947).
Dosering en inentings
Hier is ons algemene bestuursriglyne. Nader u plaaslike veearts vir 'n meer spesifieke program vir inentings volgens siektes wat algemeen in u area voorkom.
Bykomende leesstof in Vra vir Faffa op hierdie webwerf:
1921704 Bestuursriglyne vir skape en bokke
1923885 Bestuursriglyne vir melkbeeste
20 Julie 2007