Vraag:
Ek het hulp nodig i.v.m sommige lammers se ore. Albei ore het rowe op en soms rooi wonde waar nie rowe is nie. Dit lyk bloot of dit die son is wat die ore stukkend brand. Wat sou die rede wees en wat kan ek daaraan doen. Dit kom nie baie voor nie, maar ek wil graag die een of twee lammers help wat dit wel het. - Johan van den Berg (jvdb@dmv.co.za)
Antwoord:
Hierdie verskynsel word dikwels aan sonbrand gekoppel, maar bewyse hiervoor is skraps. So ook vir liggevoeligheid. Wat baie meer waarskynlik is, is dat sekere diere vir muggies en derglike insekte meer aantreklik is. Hulle word dus by uitstek aangeval en die bloedserum sypel mettertyd uit op die vel waar dit deur die immers teenwoordige kiem van klontwol aangetas word. Dit vorm dan hierdie skubbe. Behandeling van die rowe is selde suksesvol, tensy die skubbe self versigtig verwyder word. Dan kan sinksulfaat of 'n ontsmetmiddel aangewend word. Die toestand is geneig om te herhaal, wend dus insekmiddels soos piretroïede (bv. Delete, Intervet (G2815), Delkol, Intervet (G3550) aan om insekte weg te hou.
3 September 2007