Vraag:
Ek woon op 'n kleinhoewe in Kuruman, Noord-Kaap. Ek wil graag skaap en bees aanhou maar het 'n probleem. Daar is baie wilde tulpe wat voorkom. Mense sê vir my dat as diere dit inkry sal hulle vrek. Is daar enige middel wat ek kan gebruik om die tulpe uit te roei? - Chris van Staden
Antwoord:
Daar is 'n verskeidenheid tulpe wat in Suid-Afrika voorkom. Tulpe bevat hartgifglikosiede wat giftig is en wat soms grootskaalse vrektes onder skape en beeste veroorsaak. Die geeltulp (Moraea pallida) is een van die belangrikste gifplante in Suid Afrika. Dit het 'n wye verspreiding maar veroorsaak veral vrektes in KwaZulu-Natal en die hoëveld van die ou Transvaal area. Geeltulp kom wel tot in die Kuruman area voor. In die westelike dele van ons land kom die bloutulp (Moraea polystachya) algemeen voor. (Foto hieronder.) Net soos die geeltulp is die plant ook giftig. Omdat die plante bolplante is, is hulle nie afhanklik van reën om nuwe blare te vorm nie. Die plante is dus groen voor daar enige gras is en dan vreet diere dit.
![]()
|
Ons hoef nie altyd plante uit te roei vir die beheer van die siekte nie. Dit is goed bekend dat diere wat tulp ken, nie daarvan sal vreet nie. Ons kry tipies tulpvergiftiging as diere wat die plante nie ken nie, in 'n tulp-area ingebring word. Diere raak binne 'n paar dae gewoond aan die plante in 'n nuwe omgewing. Ongelukkig vrek van die diere in die tyd wat hulle die nuwe plante op die proef stel. In die ou dae het die boere 'n konkoksie van tulpbolletjies gemaak en sodoende die diere "gesout" sodat hulle nie sal vrek van die tulpe nie. Sonder dat hulle dit geweet het, het hulle die diere gewoond gemaak aan die smaak van die tulp en het die diere daarna die plante vermy.
Tulpvergiftiging is een van die min vergiftigings wat suksesvol behandel kan word. Diere moet baie stil gehou word en met geaktiveerde houtskool gedoseer word. 'n Dosis van 2 gram poeier per kilogram liggaamsmassa moet deur die bek gedoser word. Dit help om die poeier in water op te skud voordat dit gedoseer word.
11 September 2007