Vraag:
Is Tjienkerientjees giftig vir skape slegs as die plante groen is en/of blom, of is dit ook giftig nadat die plante uitgedroog het? Is slegs die blare giftig of die bolle ook? - Willem Theron (willemt@btw.co.za)
Antwoord:
Tjienkerientjees is van die giftigste plante wat ons ken. Op een gram plant per kilogram liggaamsgewig basis is dit een van die giftigste plante in Suid-Afrika. Alle dele van die plant is giftig, selfs as dit gedroog is.
Die vergiftiging word gekenmerk deur uitgesproke maagwerking wat tot 2 weke kan aanhou. In dié tyd verloor die dier baie gewig. 'n Interessante teken wat ook gesien word, is dat sommige diere blind word omtrent 'n week nadat die maagwerk begin het.
Blindheid tree in ongeveer 10-14 dae na inname van die plante en blindheid kan duur tot 8 weke of selfs permanent bly.
Behandeling waar geaktiveerde koolstof teen 'n dosis van 2 gram per kilogram gegee is, was tot 'n mate suksesvol om die diarree te stop maar die blindheid is nie verhoed nie.
18 Februarie 2008