Landbou
Soortgelyk
Reun byt hondjies dood
Dr. QUIXI SONNTAG

Vraag:
Ons tien opregte Dobermanhondjies is op 3 Maart gebore. Toe die hondjies drie weke oud was, moes ons vir 'n week Kaap toe. My ma het na die honde omgesien en sy het op 'n lelike toneel afgekom.

In die Wendy huis het oral dooie hondjies gelê wat deur die reun dood gebyt is. Hoekom het hy dit gedoen? Was dit dalk omdat ons weg was en hy nie aandag gekry het nie of was die hondjies vir hom 'n bedreiging of wou hy dalk met hulle speel? Kan hy gevaarlik wees vir my kinders? - Yolandie Du Preez (yolandie@vibrantflooring.co.za)

Antwoord:
Dis darem 'n groot trauma om so iets te beleef! Die doodmaak van kleintjies deur manlike diere, is egter bekend in baie verskillende spesies, nie net honde nie. Dit het waarskynlik te doen met 'n oeroue instink om enigiets wat nie eie genetiese materiaal is nie, dood te maak, sodat die vroulike dier gou weer in haar siklus kan kom om die spesifieke manlike dier se kleintjies te kry, sodat sy gene kan versprei.

Ongelukkig is hierdie instink dikwels misplaas, deurdat dit juis die dier se eie kleintjies kan wees wat hy doodmaak. Hy het die kleintjies dus in daardie oomblik as 'n bedreiging ervaar. Sover ek weet, is daar nie 'n verband tussen hierdie soort gedrag en aggressie teenoor mense nie. Dit sal egter heel moontlik weer gebeur as hy by klein hondjies kan uitkom. Ek glo nie dat julle weggaan enigiets daarmee te doen het nie.

  • Geskryf deur: Dr Quixi Sonntag , EduPet Veterinary Consulting, www.edupet.co.za

    9 Mei 2008