Vraag:
Die uier is warm, maar die melk lyk reg. Die lam wil drink, maar die ooi draai elke keer weg. Ons hou die ooi vas en voer die lam nou self om te verseker dat die lam gevoer word en nie agteruit gaan nie. Die ooi het voorheen gelam en sonder probleem die lam laat drink. Enige idees? - Christopher Meyer (chris.meyer@santam.co.za)
Antwoord:
Die beste plan is om 'n steriele melkmonster te kry. Aangesien die speen baie keer met mis besmet is, moet eers 'n klein bietjie melk in 'n houer gemelk en dan begrawe word. Dit moenie op die grond uitgegooi of uitgemelk word nie, want dit kan dan die siekte versprei. Melk dan van die melk uit die besmette uier in 'n steriele bottel. 'n Bakteriologiese toets moet deur 'n veearts op die melkmonster gedoen word om te bepaal watter organisme die siekte veroorsaak het. Blou-uier kan deur een van die volgende organismes veroorsaak word: Staphylococcus aureus; Pasteurella spesies; Clostridium spesies; Arcanobacterium (Corynebacterium) pyogenes en E. Coli.
Alle ooie wat blou-uier kry, se melk moet ontleed word, want soms kan daar meer as een organisme in 'n kudde wees wat dit veroorsaak. Ooie moet dan voor lam teen die betrokke organismes geïmmuniseer word. Die veearts moet terselfdertyd 'n antibiogram doen om te bepaal watter antibiotika die betrokke organisme die beste sal beheer.
Bestudeer ook vorige antwoorde oor blou-uier en hoe om hanslammers groot te maak wat reeds op Vra-vir-Faffa verskyn het:
2139404 Bokke se uiers is erg geswel
2091822 Entstowwe teen aborsies, blou-uier by bokke
2309025 Grootmaak van hanslammers
2150654 Voeding en dosering van hanslammers en -kalwers
14 Julie 2008