Landbou
Lusern en riool
Dr.. MARIJKE HENTON

Vraag:
Ek wil graag uitvind of dit wys is om lusernlande met behandelde rioolwater te bespuit? As jy veral kyk na hoe suksesvol dit is om LM-gras te bespuit met rioolwater, wonder ek of dit dieselfde effek sal hê en wat sal die boere se reaksie wees op lusern wat met behandelde rioolwater bespuit is? Kan die lusern nadelig wees vir melk- en vleisbeeste? - Nico Heyns (njh@polka.co.za)

Antwoord:
Onbehandelde riool bevat kieme, wurmeiers en ander organismes wat diarree in diere kan veroorsaak. Hierdie organismes kan maklik onder vogtige omstandighede oorleef en is dus 'n gevaar indien die lusernlande bewei word. Die eiers van die menslintwurms, Taenia solium en T. Sagginata, veroorsaak masels in varke en beeste sou hulle deur diere ingeneem word. Sommige organismes kan selfs die droogproses oorlewe en sou dus siekte kon veroorsaak in beide melk- en vleisbeeste wat die hooi sou vreet.

Riool wat egter volgens amptelike standaarde behandel is, behoort geen van die siekteveroorsakende organismes te bevat nie. Dit is dus krities belangrik om die korrekte riglyne vir behandeling presies na te kom.

Hoendermis wat nie gesteriliseer is nie, kan wel siektes soos lamsiekte en paratifus veroorsaak. Slegs behandelde hoendermis is geskik vir gebruik in herkouers en dan moet diere teen lamsiekte geïmmuniseer wees.

'n Deskundige op die gebied van lusern behoort geraadpleeg te word, sodat enige mineraal en ander tekorte aangevul kan word want riool bevat nie noodwendig al die regte faktore vir die kweek van lusern nie.

  • Geskryf deur: Dr Marijke Henton, Idexx Golden Vetpath