Landbou
Prolaps by skaap
Prof. GARETH BATH en dr. FAFFA MALAN

Vraag:
Ons het die nare ondervinding gehad dat een van ons skape 'n dag voordat sy sou lam vaginale prolaps ontwikkel het. Die veearts het 'n induksie medikasie gegee en die volgende dag het sy ook 'n anale prolaps gekry. Die gevolg is dat ons die ooi en die lammers (tweeling) verloor het. Wat veroorsaak die prolaps en hoe kan dit voorkom word?

Ons diere is goed versorg en sommige mense hou voor dat die ooie dalk te vet kan wees. Hulle wei op gras en kry in die aand 'n bietjie lusernpille om hulle hok toe te lok. Ons het nog ooie wat binnekort sal lam en ons wil 'n herhaling van die nagmerrie ondervinding vermy. - Sonja (georgemaas@iburst.co.za)

Antwoord:
Vaginale prolaps is 'n toestand wat nog nie bevredigend opgelos is nie. Ooie naby aan lam, veral die met meerlinge en ouer diere word meer aangetas. Oormatige vet kan miskien ook 'n rol speel. Daar is oorgenoeg kos en ooi is gewoonlik baie swaar en kry min oefening. Sy lê baie vir lang periodes met die gevolg dat haar blaas vol raak en vergroot. Wanneer sy opstaan het sy moeite om te urineer en moet sy groter druk uitoefen om te urineer. Sy pars met die gevolg dat die vergrote uterus oor die blaas in die bekken gedruk word en soos die druk verhoog, word die vagina na buite gestoot.

Daar is ook al gevind dat die toestand wel mag voorkom in ooie wat in 'n swak kondisie was met gevolglike verlies in spiertonus. Skynbaar kan skade aan die vagina ook 'n rol speel.

Die terrein waar skape loop, mag ook 'n rol speel. Waar hellings voorkom, word gevind dat ooie met hulle koppe opdraand wys om die druk op die diafragma te verlig. Dit plaas meer druk na agter met gevolglike prolaps van die vagina.

Oorerwing mag 'n rol speel en die toestand word dikwels geassosieer met die plaas van dragtige ooie op nuwe geil weidings.

Ooie wat 'n prolaps een keer gehad het, sal dit dikwels herhaal by die volgende lamming.

Kliniese tekens
Die eerste teken wat gesien word, is dat 'n klein gedeelte van die vagina se slymvlies tussen die lippe van die vulva sigbaar is. Aanvanklik word dit slegs gesien as die ooi gaan lê. Later trek die vagina glad nie terug as die ooi opstaan nie en soos die toestand vererger, steek meer en meer van die vagina uit totdat die vagina geheel en al met die binnekant buitentoe uitstulp. In so 'n geval begin die wand van die vagina van 'n diep rooi tot persblou verkleur en word daarna pikswart.

As die ooi nie gou behandel word nie, droog die slymvlies uit, word grof en krake ontwikkel en bloeding ontstaan. In erge gevalle sterf die weefsel af, word etterig en gangreen mag ontstaan. Mis van die ooi mag ook die uitgestulpte vagina besmet.

Die ooi toon groot ongemak en staan kort-kort op. Sy probeer elke keer as sy opstaan om te urineer, maar kan slegs klein hoeveelhede uriene passeer omdat die urienbuis geblokkeer is as gevolg van die uitgestulpte vagina.

Sommige gevalle mag spontaan herstel terwyl ander ooie vrek omdat hulle nie kan lam nie of weens 'n gebarste blaas en aansameling van uriene. In baie erge gevalle kan diere binne 24 uur 'n prolaps ontwikkel, die blaas bars, die vaginawand skeur met erge bloeding en vrekte.

Behandeling
Daar moet in die vroegste stadium van prolaps opgetree word. Hoe vroeër opgetree word, hoe groter is die kans op sukses. Ontsmet die vagina goed en lig dit op sodat die ooi kan urineer. Indien die vagina teruggeplaas word voordat die ooi geurineer het, mag die blaas bars. Deur die agterpote van die ooi op te lig kan die vagina makliker teruggedruk word. Die prolapse kan teruggeplaas word en die die vagina deels chirurgies deur die veearts toegewerk word. Daar is ook 'n baie suksesvolle antiprolaps T-vormige plastiek ontwerp wat na die terugsit in die vagina geplaas word en wat 'n prolaps daarna voorkom. Ooie moet gemerk word en sorgvuldig dopgehou word omdat hulle dikwels hulp nodig het tydens die lamproses en die steke of die toestel verwyder moet word.

Rektale prolaps word in hierdie geval aan aanhoudende parsing toegeskryf, die gevolg van irritasie van die uitgestulpte vagina. Voorkoming is moeilik. Ooie wat dit reeds gehadhet, moet liefs geprul word.

'n Antiprolaps ontwerp van Instavet (011 462 4464) is beskikbaar. Dit moet korrek aangewend word.

  • Geskryf deur: prof. Gareth Bath en dr. Faffa Malan, Intervet 'n deel van Schering-Plough

    Bron: Bruere, A. N. and West, D. M. 1993 The Sheep: Health, Disease and Production. Department of Veterinary Clinical Sciences, Massey University, Palmerston North. ISSN 0112-9643

    2 April 2008