Landbou
Behandel bloutong só
Dr. JOHAN VAN ROOYEN

Vraag:
Ek het hierdie jaar 'n Bloutonguitbreek onder my skape op die plaas. Hoe moet ek die siek skape behandel?

Antwoord:
Diere wat Bloutong het, het seer spiere, is liggevoelig, koorsig en ontwater. Bloutong stem baie ooreen met griep in mense. Sere in die mond en 'n "blou" tong is nie altyd teenwoordig nie. Siek diere kry dikwels sekondêre longontsteking wat dan die oorsaak van dood is. Goedversorgde bloutonggevalle oorleef gewoonlik. Die behandeling van Bloutonginfeksie is soos volg (in volgorde van belangrikheid):

  • Stel ontwatering reg
    Diere kan nie loop en drink nie en as dit baie warm is, is hulle gou ontwater.

    Gee lammers 1 tot 2 liter glukose en soutoplossing wat by u koöperasie of veearts verkrygbaar is. Gee volwasse skape tot 5 liter.

    As niks anders beskikbaar is nie, gee 'n opgehoopte teelepel sout en 'n opgehoopte eetlepel suiker in 2 liter water.

  • Spoel neus en mond met sterk soutoplossing uit
    Diere met seer monde en geblokte neuse sal nie eet nie. Sout is 'n goeie ontsmettingsmiddel vir die mond. Meng 'n eetlepel sout in 'n koppie water en gebruik 'n spuit om in die neus en mond op te spuit. Verwyder korste in neusopening met 'n lap, watte of toiletpapier.

  • Sit diere in 'n stal
    Onder 'n boom in 'n land is nie goed genoeg nie. Siek skape gaan lê dikwels self in die son. Nagte mag koel wees en dae te warm. 'n Stal of skeerskuur is baie beter vir siek diere. Gee strooi om op te slaap of op hortjiesvloer. Sorg vir kos en water en doseer water indien hulle nie self drink nie. Beheer lastige vlieë en muskiete.

  • Voer lusern na 24 uur
    Skape wat nie vreet nie, sal moeilik herstel as hulle nie energie kry nie. Neem vars lusern of gras en maak fyn in huishoudelike verpulper saam met water. Sif en doseer.

  • Behandel met antibiotika en anti-inflammatoriese middel
    Siek skape se koors het nie verminder met Disprin deur die bek nie. Antibiotika of sulfapille deur die bek dra by tot die afsterwe van die mikro-organismes in die rumen. Langwerkende tetrasikliene maak spiere meer seer en verhoog liggevoeligheid. Antibiotika maak nie die Bloutongvirus dood nie, maar voorkom longontsteking. Gebruik 'n middel wat doeltreffend is teen Pasteurella - gesels met jou veearts oor die keuse of gebruik 'n inspuitbare sulfamiddel bv Disulfox LA (G3441)

    Kry inspuitbare anti-inflammatoriese middel by jou veearts vir die pyn en koors.

    Die inligting wat in hierdie antwoord vervat is, word slegs bedoel as algemene riglyne en u moet altyd u veearts raadpleeg vir advies. Die skrywer neem geen verantwoordelikheid vir enige skade wat mag volg op die toepassing van die inhoud van hierdie dokument op die plaas of in u kudde nie.

    Geskryf deur: dr. Johan van Rooyen, Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut, Privaatsak X529, Middelburg OK, 5900

    8 April 2008