Wenke vir speentyd
Dr. JOHAN VAN ROOYEN
Vraag:
Ek moet my lammers speen. Het u enige wenke om die proses te bestuur?
Antwoord:
Speentyd is 'n moeilike tyd vir die lammers en dikwels loop dinge skeef. Die volgende wenke kan van hulp wees om verliese te voorkom:
Verwyder altyd die ooie en nie die lammers nie. Skuif die lammerooie met lammers ten minste een tot twee weke voor speen na die kamp waarin die lammers na speentyd moet loop.
Los 'n paar ou ooie by die lammers wanneer die meeste ooie verwyder word. Hierdie ou ooie kan na 'n paar weke ook uitgehaal word wanneer die lammers oor die speenskok is.
Sommige boere ruil selfs die ooie van verskillende kampe om wanneer hulle speen. Die lammers ondervind minder stres, alhoewel hulle bron van melk nou weggeneem is.
Sorg dat die lammers reeds ten minste een Bloednierinspuiting gehad het voor speen.
Doseer die lammers met Vitamine ADE plus spoorelemente (bv Embamin TE, V8189) as 'n tonikum om hulle weerstand teen siektes en parasiete op te bou.
Klas die lammers 'n ruk na speen in 2 of meer groepe volgens kondisietelling. Dit vergemaklik die bestuur van die lammers deurdat swak groeiers makliker uitgeken kan word.
Merk 10 tot 15 lammers in elke groep met 'n rooi plaatjie en weeg hulle elke maand. So kan gou vasgestel word as hulle probleme ondervind voordat die skade te groot en blywend word. Stel ook 'n doelwit vir die groei van ooilammers sodat hulle teen paartyd ten minste 70% van hulle volwasse massa bereik het.
Beheer haarwurm. Die beste metode is om die FAMACHA tegniek te gebruik om die kleur van die oogslymvliese te beoordeel en dan net bleek lammers te doseer. Doseer met 'n wurmmiddel wat 'n aktiewe bestanddeel bevat wat nog die parasietstamme op die plaas beheer. Swak lammers kan ook met 'n lintwurmmiddel behandel word, maar dit is gewoonlik onnodig om te doseer omdat die lammers na speen vanself die lintwurms afskud.
In tye van droogte kan dit baie help om lammers reeds aan byvoeding gewoond te maak voordat die ooie verwyder word. Dan eet hulle reeds sterk wanneer hulle gespeen word.
Speen liewers eerder as te laat wanneer ooie reeds begin swak word. Dikwels produseer ooie in elk geval nie meer melk nie en is dit beter vir die ooi en die lam om geskei te word sodat hulle voeding meer spesifiek vir hulle behoeftes bestuur kan word.
Wees baie versigtig met voere wat ureum bevat wanneer speenlammers gevoer word. Lammers mag te veel voer eet net na speen en dan ureumvergiftiging opdoen.
Waak teen koksidiose net na speen. Lammers wat koksidiose opdoen, groei swak en toon soms 'n slymerige maagwerk en irritasie van die rektum (lammers loop met sterte in die lug na ontlasting). Dikwels word net 'n bietjie droë swart mis op die lam se broek gesien. Koksidiose kan met 'n misondersoek bevestig word.
Die inligting wat in hierdie antwoord vervat is, word slegs bedoel as algemene riglyne en u moet altyd u veearts raadpleeg vir advies. Die skrywer neem geen verantwoordelikheid vir enige skade wat mag volg op die toepassing van die inhoud van hierdie dokument op die plaas of in u kudde nie.
Geskryf deur: dr Johan van Rooyen, Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut, Privaatsak X529, Middelburg OK, 5900
8 April 2008