Vraag:
Ek beleef tans 'n wonderlike uitdaging wat die bestuur van my eie Nguni-stoetkudde betref op grond net buite Grahamstad. Dit word as stokperdjie bedryf, maar met dieselfde erns benader as vir enige ander voltydse boer.
Die aankoop van my eerste geregistreerde bul moet egter binne die volgende 30 dae realiseer. Al my vroulike diere is tans of dragtig of het baie jong kalwers aan die voet en loop by stoetbulle op 'n buurplaas as deel van 'n ooreenkoms.
Ek het twee keuses. Eerstens die koop van 'n bul by 'n stoetveiling wat eersdaags op Grahamstad plaasvind en waar gehalte jong bulle en een of twee beproefde kuddevaars aangebied gaan word en tweedens is ek 'n SP-bul aangebied om uit die hand te koop wat reeds sy merk in 'n naburige stoet gemaak het en vervang moet word. Een van my eerste registrasi verse is tans van hom dragtig.
My dilemma is net dat ek die risiko van veilingbulle wat teen baie hoë pryse kan draai, moet aandurf (vraag en aanbod) of die SP-bul wat net oor die pad moet stap moet koop, teen 'n baie billike prys, en sodoende ten minste my kudde net die eerste twee seisoene kan dra tot ek verder kan uitbrei. Die kwessie wat my egter laat twyfel is dat die SP-bul se een testikel hoër geheg is as die tweede testikel. Beide testikels is egter ewe groot en die bul teel sonder om 'n koei oor te slaan en het ook pragtige kalwers. Die bul is verder reeds aangepas, 'n kleinerraam Nguni, en het 5/5 vir sy spermtelling/gehalte gekry met 'n vorige vrugbaarheidsondersoek.
Die bul is tans amper 7 jaar oud en is so taai soos 'n ratel. Ek weet dus wat ek kry. Wat is u opinie oor die testes wat dieselfde grootte is, maar nie gelyk hang nie inaggenome dat hy in 2005 geïnspekteer en geregistreer was as 'n "Studbook Proper" bul deur die Nguni-beestelersgenootskap? Kan die testikels wat ewe groot is, maar nie gelyk hang nie, vrugbaarheid by sy dogters benadeel? Dit sal die enigste kwessie wees wat ek nog moet oorweeg voor ek 'n besluit kan maak.
Antwoord:
Wanneer jy 'n bul aanskaf is daar twee faktore om te oorweeg buiten die genetiese eienskappe van die bul.
Dit is die teelgeskiktheid van die bul, asook die vermindering van risiko ten opsigte van siektes wat die bul in die kudde kan inbring.
'n Geslagskundige ondersoek van 'n klomp jong bulle voor hulle verkoop word, moet gesien word as deel van die kwaliteitskontrole wat die teler toepas. In die proses waar stoetbulle geteel word, word daar heeltyd kwaliteitskontrole toegepas soos keuring op indekse na speen, verdere keuring op grond van 'n Fase C of D toets en dan ook die gesertifiseerde prestasietoetsresultate soos voorsien deur SA Stamboek. Die laaste hekkie wat die jong bulle moet oorkom, is die geslagskundige ondersoek en die sertifisering van teelgeskiktheid deur 'n veearts. Slegs bulle wat hierdie ondersoek slaag, word gesertifiseer. Dit is belangrik in jong bulle omdat 2% tot 10% van hulle nie aan die minimum-teelgeskiktheidstandaarde sal voldoen nie.
Deel van die ondersoek is ook om seker te maak dat die bulle nie geslagsiektes of ander siektes dra nie en hiervoor word ook getoets. Die afdeling van die ondersoek kan gesien word as deel van risikobestuur.
In die geval van 'n volwasse bul wat reeds in 'n kudde gewerk het en nou aangekoop word deur 'n ander eienaar is die volgende belangrik:
Dit is nie 'n praktyk wat normaalweg aanbeveel word nie omdat geslagsiektes 'n groter probleem is in bulle ouer as 6 jaar. In die geval van Nguni-bulle is dit wel 'n opsie omdat goeie kuddevaars relatief skaars is en omdat die gemiddelde Nguni-bul op 7 jaar nog vir 2-3 jaar doeltreffend gebruik kan word.
Die belangrikste risiko wat uitgeskakel moet word, is geslagsiektes. Eerstens het jy 'n skriftelike bevestiging nodig van die verkoper dat die bulle in die kudde die vorige jaar getoets is vir vibriose en trigomoniase en dat almal negatief was. Dan moet 'n veearts die spesifieke bul ook toets vir die twee siektes.
Indien die kudde vanwaar die bul kom, nie die vorige jaar getoets is nie of wel positief getoets is, moet die bul wat jy aankoop 3 maal getoets word vir die geslagsiektes voordat jy dit in die kudde inbring.
Ten opsigte van die een testikel wat hoër in die saadsak hang, die volgende. Wanneer die veearts die bul kom toets kan daar gevra word dat die testikels ook deeglik deurgevoel word as deel van die geslagskundige ondersoek. Daar is altyd 'n vraagteken oor enige afwyking van die normaal. In Nguni-bulle is dit uiters noodsaaklik om hipoplasie van die testikels uit te skakel. Dit is waar een testikel baie kleiner as die ander een is en partykeer lyk dit of die een hoër hang as die ander een. Die afwyking is hoogs oorerfbaar en wel 'n probleem in die Nguni-ras.
Die veearts sal bepaal of die testikels ewe groot is, of hulle elastisiteit dieselfde is, of altwee vry beweeg in die saadsak en of daar nie enige verhardings of knoppe is in die testikels of saadstring nie.
Die res van die geslagskundige ondersoek sal bestaan uit semenversameling en die evaluasie van die beweeglikheid en bouvorm van die individuele sperms. Indien die vorige toets 'n 5/5 was, verwys dié gewoonlik na die massa beweging van die sperms. Dit is baie goed, maar daar moet ook na die individuele sperms se bouvorm gekyk word, veral in die geval waar daar nou 'n afwyking van die normaal is in die hoogte van die een testikel. Daar moet na 100 individuele sperme op die smeer wat gemaak en gekleur is, gekyk word. Die minimum standaard is dat 75% en meer van die sperme normaal moet wees.
'n Volledige teelgeskiktheidsondersoek deur 'n veearts sal ook 'n algemene ondersoek van die bul insluit, wat veral baie belangriker in ouer bulle is: Daar word onder andere gekyk na die bek, tande, oë en ledemate - en of die bul nog funksioneel is om te kan dek.
Ek hoop dié inligting gee meer agtergrond omtrent die besluit om 'n volwasse bul aan te koop.
22 April 2008