Vraag:
Wat is die mees algemene interne parasiete in perde en hoe moet hulle beheer word?
Antwoord:
Het u geweet dat van alle plaasdierspesies perde die grootste verskeidenheid inwendige parasiete huisves? Weet u ook dat inwendige parasiete waarskynlik die grootste enkele oorsaak vir koliek by perde is?
Interne parasiete het 'n betekenisvolle invloed op die perd se prestasies en dra ook beduidend by tot spysverterings- en asemhalingsprobleme.
Perde is die potensiële gasheer vir te veel verskillende parasiete om almal in een kort artikel te bespreek, maar ek verskaf graag inligting oor die mees algemene interne parasiete en hoe om hulle te beheer. Vereenvoudig vind ons vyf mees algemene, interne parasiete in perde, naamlik strongiele, askariede, sambokwurm, habronematode en papies.
Strongiele is 'n groot groep verwante wurms. Die groep verdeel in groot strongiele en klein strongiele (cyathostomas) Hierdie groot strongiele is baie gevaarlik omdat hul onvolwasse (larf) stadium deur die wand van die dermkanaal en tot in die bloedvate van die derms migreer.
Hierdie migrasie veroorsaak erge inflammasie van die ingewande en bloedvate (trombose), asook moontlike bloeding, wat kan lei tot intense koliek (gangreen van die derms kan selfs plaasvind) en interne bloeding en soms selfs tot die dood. Die volwasse wurms is bloedsuiers - wat sake nog erger maak. 'n Chroniese, laegraadse infeksie van klein strongiele veroorsaak gewigsverlies, algemene agteruitgang, bloedarmoede en volgehoue diarree. Strongiele affekteer perde van alle ouderdomme.
Strongiele is besonder vrugbaar en 'n wyfie kan 5000 eiers per dag lê en daardeur weiding met groot hoeveelhede parasietlarwes besmet, wat gereed is om die volgende perd as gasheer te gebruik.
'n Ander belangrike faktor wat die behandeling van klein strongiele bemoeilik, is dat van die strongielelarwes die wand van die dikderm binnedring en hulself in die wand insisteer. Daardeur maak hulle dit onmoontlik vir meeste van die perde ontwurmingsmiddels op die mark om hulle dood te maak. Daar is tans slegs een bewese manier om hierdie klein strongiele dood te maak en dit is deur tenminste een keer per jaar die middel Fenbendasool (Panacur Paste, G3374) vir vyf opeenvolgende dae toe te dien. Uit bogenoemde blyk duidelik dat strongiele nie 'n groep wurms is om mee te speel nie.
Die askariede (Parascaris equorum) of spoelwurms is groot, "spaghetti-agtige" wurms wat tot 30cm of selfs langer word. Die askariede is hoofsaaklik by vullens 'n probleem en weereens kan die migrerende larwes net soveel skade aanrig as die volwasse wurms.
Die migrerende larwes beweeg op deur die lugpyp en boonste lugweë. Groot getalle van die volwasse wurms kan obstruksie in 'n vul se derms veroorsaak, wat erge koliek tot gevolg het. Aangesien dit 'n ernstige probleem by jong perde kan wees, is dit belangrik om hulle dikwels en gereeld te behandel, dus elke 8 weke vanaf 6 weke ouderdom tot ongeveer 18 maande ouderdom.
Daar is heelwat beskikbare middels op die mark. Fenbendasool (moontlik die veiligste keuse) en die makrosikliese laktone soos Bimectin Horse Paste G3543 is voorbeelde van middels wat effektief is.
Sambokwurms (Oxyuris equi) mag nie so lewensgevaarlik soos die twee bogenoemde parasiete wees nie, maar hulle is ongelooflik irriterend vir die perd. Die volwasse wurm lê eiers net buite die perd se anus en dit veroorsaak intense irritasie wat die perd noop om sy stert teen mure, pale en staldeure te skuur. Fenbendasool en die makrosikliese laktone is voorbeelde van middels wat teen sambokwurm effektief is.
Die habronematodes (Draschia megastoma en Habronema spp) is wurms wat die huisvlieg en stalvlieg gebruik om hul besmetlike larwes te versprei. Die vlieë plaas die larwes in sere op die vel, wat die sere vererger en lei tot "somersere" (kutane habronemiase) Hierdie volwasse wurms (Draschia megatoma) versamel in die perd se maag waar hulle 'n nare ontsteking (gastritis) en knopperige kankers veroorsaak. Makrosikliese laktone is die aangewese behandeling.
Papies (Gasterophilus spp.) wat in 'n perd se maag voorkom, is nie wurms nie, maar wel die larfstadium van die papievlieg. Hierdie papies samel in groot getalle in die perd se maag aan, wat kan lei tot irritasie (gastritis). Gedurende die laat somer en vroeë herfs lê die papievlieg haar eiers op die perd se voorbene, bors en neus. Wanneer die perd hierdie liggaamsdele lek of byt, word die eiers deur die mond ingeneem tot in die maag. Papiegetalle kan effektief verminder word indien data tydens die regte jaarseisoen met makrosikliese laktone behandel word.
Hoe hou ons hierdie parasiete onder beheer?
Dit is belangrik om die lewensiklus van die parasiete te verbreek, sowel as om ontwurmingsmiddels toe te dien. Mis moet daagliks uit stalle en weekliks of tweeweekliks van die weiding af verwyder word. (veral in kleiner kampe).
Aggressiewe vliegbeheer help om papies te beheer en dra by tot die algemene welsyn van diere. Toegewyde eienaars sal hul perde noukeurig dophou vir tekens van verlies van kondisie, dowwe haarkleed, skuur van die stert en diarree. Roetine mikroskopiese ondersoeke van mismonsters sal u veearts in staat stel om enige parasietbesmetting op te spoor.
'n Effektiewe program vir parasietbeheer sluit alle diere op die plaas in en intensiewe behandeling behoort op gereelde tussenposes beplan te word. Elke eiendom en sekerlik elke individuele dier, benodig 'n eie, individuele program, maar om praktiese redes behoort die frekwensie van die ontwurming van diere op die dier se "risiko groep" gebaseer te wees.
Verwysings by outeur verkrygbaar
22 November 2007