Vraag:
Ek wil weet wat ons kan doen met ons Jack Russel teef wat bang is vir onweer. Sy is nou amper 2 jaar oud en het nie voorheen snaaks opgetree wanneer die weer swaar is nie. Dit gebeur net die afgelope 6 maande.
Sy slaap in 'n baksteenkamertjie in 'n hondekas. As die weer swaar is, weier sy om in haar kas te klim waar sy tog veilig en beskerm is. Sy slaap andersins elke nag stroopsoet in haar hondekas. As dit net gewone reën is, klim sy in haar kas. Met tye sal sy selfs in die reën rondloop. Sy is baie lief vir water en speel gereeld in die water as ons die grasperke natmaak.
Sy is 'n langbeen Jack Russel en te groot en rof om in die huis te bly. Sy slaap al van 6 weke ouderdom af alleen buitekant. Ek het al mooi gepraat, gedreig en haar probeer omkoop met lekkernye, maar niks werk nie. - Huibrecht Horn (huibrechthorn@gmail.com)
Antwoord:
Daar is ongelukkig honde wat bang is vir harde geluide. Gelukkig is daar verskeie middels beskikbaar om honde wat bang is vir swaar weer of ander harde geluide soos klappers, te kalmeer. Hierdie middels is egter voorskrif medisyne en kan slegs deur 'n veearts voorgeskryf word. Ek beveel dus aan dat u u plaaslike veearts besoek in verband hiermee.
12 Desember 2007