Vraag:
Watter middel kan ek gebruik om vlieë te beheer op my mak wild? Ek wil dit kan toedien met 'n handspuit. - Dirk (lemmermm@telkomsa.net)
Antwoord:
Baie diere skrik vir die spuitgeluid van spuitmiddels. Die gebruik van opgietmiddels is minder stresvol vir sulke diere en kan met spesiale toedieners vir wild gebruik word.
Voorbeelde van opgietmiddels wat geregistreer is vir wild:
Delkol (Reg No. G3350 Wet 36/1947) bevat 'n piretroïed (deltametrien).
Delete® All (Reg No. G2837 Wet 36/1947) bevat 'n piretroïed (deltametrien) plus 'n amidiene (amitras).
Alhoewel hierdie middels net vir bosluisbeheer op wild geregistreer is, is hulle wel geregistreer vir vliegbeheer op beeste. Deltametrien, die aktief, in beide dié opgietmiddels bied uitstekende vliegbeheer. Delete® All is wel 'n kombinasie produk en bevat ook amitras as aktief. Delete® All moet dus verkieslik nie op zebras of renosters gebruik word nie, aangesien dié wild baie nou verwant is aan perde en 'n verlamming van die derms kan kry en selfs kan vrek van amitras.
Indien u wel 'n spuitmiddel wil gebruik bespreek die keuse van 'n middel met u veearts omdat die spuitmiddels (piretroïedes) net vir beeste en nie spesifiek vir gebruik op wild geregistreer is nie.
8 Januarie 2008