Vraag:
Ek het 'n katjie. Hy eet die regte kosse en sy pels is mooi en blink. Hy is baie lewendig. Hy eet baie gesond, maar hy bly maer. Ek het hom al behandel vir wurms. Kan hy dalk iets anders makeer? - Rita Hugo (ritahugo@vodamail.co.za)
Antwoord:
Baie troeteldiere in Suid-Afrika is oorgewig en dus dink baie eienaars dat hul troeteldiere wat eintlik die ideale gewig is, ondergewig is. U veearts kan u help om 'n liggaamskondisie telling te doen en sodoende te bepaal of u katjie onder-, oorgewig of die ideale gewig is.
Wat die korrekte dieet vir katte aan betref, is dit baie belangrik om katkos te koop en nooit vir katte hondekos te voer nie. Katte benodig 'n aminosuur, taurien, wat nie in hondekos voorkom nie. Dit is ook belangrik om 'n gebalanseerde kos te voer. Raadpleeg gerus u veearts oor al die verskillende diëte wat beskikbaar is.
Katte en honde moet ten minste 3 of 4 keer 'n jaar ontwurm word. Voorbeelde van ontwurmingsmiddels vir katte is: Panacur Petpaste (G3614) vir rondewurms en DuantelM (G3441) en Quantel (G2717) vir rondewurms en lintwurms. Raadpleeg u veearts oor middels wat bewese effektiwiteit het na jare se navorsing. Dit is ook belangrik dat al die troeteldiere op die perseel tegelyker tyd behandel word.
Geskryf deur dr. Sunelle Strydom, Intervet, 'n deel van Schering Plough.
9 Januarie 2008