Landbou
Malkop-uintjie vergiftiging


Vraag:
Na 'n reënbui kom plante uit met twee blare en tot drie knolle onder die grond. Sodra die dier die plant eet, draai hulle in die rondte, word blind en vrek. Die vleis van die dier is oneetbaar en stink as dit gekook word. Ons noem die plant die malkop-uintjie. Ons wil graag weet wat ons as 'n teenmiddel kan gebruik? - Betsie van Zyl (betsie@iway.na)

Antwoord:
Betsie, ek sal graag wil weet waar julle boer. Dit help om plante te identifiseer.

Daar is 'n bolplant wat as malkop-ui (Dipcadi glaucum) bekend staan. Die plant kom wyd verspreid in die droër dele van Suid Afrika en Namibië voor. Na reën kan groen blare gou verskyn vanuit die bolle en nuwe plantjies kan ook in hul duisende opkom van saad. Die plant veroorsaak veral vrektes in oorbewyde kampe.

Malkop-ui is bekend daarvoor om senuweesimptome te veroorsaak. Diere kan doelloos rondloop, hulle koppe teen voorwerpe druk, in sirkels beweeg en 'n erge diarree toon. As diere definitief blind word moet ons ook altyd chinkerinchee vergiftiging in gedagte hou.

Ongelukkig is daar geen spesifieke behandeling vir die vergiftiging wat deur malkop-ui veroorsaak word nie. Ons weet nie wat die gifstof in die plant is nie. Jy kan probeer om medisinale geaktiveerde houtskool toe te dien teen 'n dosis van twee gram poeier per kilogram liggaamsgewig.

Die beste oplossing is om die kampe wat nie gras het nie te vermy na die eerste reën. Indien daar genoeg gras is, sal die diere waarskynlik nie die malkop-ui vreet nie.

  • Geskryf deur prof. Neil Fourie, Intervet 'n deel van Schering Plough

    18 Januarie 2008