Landbou
Wet op Dierebeskerming
Deur drs QUIXI SONNTAG en FAFFA MALAN

Vraag:
Die wet op Dierebeskerming (71/1962) maak voorsiening dat daar opgetree kan word teen persone wat wreed teenoor diere optree of nie in hulle basiese lewensbehoeftes voorsien nie. As 'n boer byvoorbeeld geen inentings of doserings vir sy diere doen nie, omdat hy dink dat ons só te pieperige diere teel, is dit nie ook 'n oortreding van die wet nie? - L. Kellermann (jakkelsdraf@telkomsa.net)

Antwoord:
As die boer se optrede lyding van sy diere veroorsaak, kan hy wel aangekla word onder die Dierebeskermingswet. Dit sal egter moeilik wees om so iets te bewys. Dit sal duidelik moet wees dat baie meer van die diere siek word en doodgaan as wat normaalweg die geval is met soortgelyke boerderye.

Die boer sal miskien kan aanvoer dat sy optrede in belang van die diere se voortbestaan is aangesien hy nou sterker en gesonder diere teel. Die blote feit dat hy nie ent en ontwurm nie, sal waarskynlik nie genoeg wees om hom te vervolg nie. Sy gedrag sal eers as nalatig bewys moet word.

Slegs immuniserings soos bv die jaarlikse inenting van miltsiekte in beeste wat deur die Departement van Landbou voorgeskryf word, is verpligtend. Daar is geen wet wat sê dat jy diere moet inent of ontwurm nie.

Die Dierebeskermswet (Wet 71 van 1962) sê egter dat dit 'n oortreding is as diere toegelaat word om erg geparasiteer te word. Dit is ook 'n oortreding as iemand faal om vir 'n siek of beseerde dier die nodige veeartsenykundige of ander mediese behandeling waartoe hy/sy in staat is, te verkry. Dit beteken dat 'n boer wat op 'n verafgeleë plek boer en nie binne nabye afstand van 'n veearts af is nie, diere moet behandel met die nodige waartoe hy/sy in staat is. In die spesifieke geval wat hierbo genoem word die volgende: geen oortreding word begaan totdat die diere siek word en daarna geen behandeling gegee word nie.

Skakel Lesley by 083 600 7838 vir meer inligting.

  • Geskryf deur: drs Quixi Sonntag, EduPet Veterinary Consulting en Faffa Malan,Intervet 'n deel van Schering Plough.

    18 January 2008