Vraag:
Ons het 'n Bonsmarabul wat ons Jerseykoeie dek. Hy het 'n koei probeer dek en haar rug het gebreek. Ons vermoed sy het probeer omdraai en hy het op haar rug beland. Is Bonsmaras te swaar vir Jerseys? - Sandra van Dyk (pieterd@webmail.co.za)
Antwoord:
'n Jerseybul kan net so swaar soos 'n Bonsmarabul weeg alhoewel 'n mens baie groot Bonsmarabulle en baie klein jong Jerseybulle kry. Koeie word hoofsaaklik beseer as hulle gly wanneer die bulle hulle dek. Dit is as hulle op sementvloere of in gladde modder staan. Baie keer meng 'n ander bees in terwyl die bul spring en dan kan 'n ongeluk maklik gebeur.
'n Mens moet net oppas wanneer 'n mens 'n vleisbul op 'n melkkoei gebruik, want dit kan baie maklik kalwingsprobleme tot gevolg hê. Dit is van groot waarde as 'n mens 'n bul met 'n teelwaarde vir klein kalfies kan gebruik of beesrasse wat bekend is daarvoor dat hulle klein kalfies gooi.
23 Januarie 2008