Landbou
Werpsel "verdwyn"
Dr. QUIXI SONNTAG

Vraag:
My Jack Russell teef het geboorte geskenk aan vier klein Jack Russelltjies. Die volgende oggend was een tefie dood. Na drie dae het ek die drie wat oorgebly het se sterte laat afsit by 'n veearts. Eers was die ma geskei van die reun (ook 'n Jack Russell) maar na vyf dae het ons besluit om die afskorting te verwyder en die ma en pa het baie gelukkig daarmee gelyk.

Ons het die klein hondjies baie hanteer en op 'n kombers buite die hok geplaas (ma was baie erg oor hulle). Toe hul 'n week oud is en ek die oggend by die hok kom, was een hondjie weg. Dieselfde middag is nog een hondjie dood in die hok gevind. Nou is daar een oor en is ek stomgeslaan en wonder of ons iets fout gedoen het?

Die tefie het genoeg van alles gekry soos kalsiumpille en kos om die hondjies te voed. Ons het haar nou weer afgeskort en vanoggend was daar gate onder die hok in gegrou. Kan u asb vir my raad gee om die gebeure te voorkom? - Leon Engelbrecht (leon.engelbrecht@eds.com)

Antwoord:
Dit kan gebeur dat volwasse honde klein babahondjies opeet. Soms is dit die teef wat dit doen a.g.v. angstigheid (en dan sal sy dit waarskynlik weer doen met toekomstige werpsels), maar in die diereryk is dit meer algemeen dat 'n manlike dier die kleintjies doodmaak (daar is verskillende teorieë oor hoekom dit gebeur).

Aangesien (as ek die geskiedenis reg verstaan) die reunhond wel toegang tot die kleintjies gehad het, is dit dus moontlik dat hy die skade kon aangerig het. Hou hom dus in die toekoms eerder weg van babahondjies af!

  • Geskryf deur dr. Quixi Sonntag, EduPet Veterinary Consulting.

    23 Februarie 2008