Vraag
Ek het 'n skaaphond en 'n toypom. Die skaaphond het altyd gewag dat die kleintjie klaar haar dinge doen en dan daarop ge-urineer. Deesdae wag sy egter nie meer nie, en urineer die kleintjie raak. Is daar enige iets wat ek kan doen om haar af te leer van hierdie gewoonte? Ek is ook bang dat die klein hondjie 'n velinfeksie sal ontwikkel. - Sandra (svanstaden@shoprite.com)
Antwoord:
Die merk van 'n ander hond se urine is normale gedrag vir honde. Urine bevat feromone (chemiese bestanddele met 'n spesifieke reuk) en dien as 'n vorm van kommunikasie tussen honde. In hierdie geval het dit nou so ontwikkel dat die groter hond toevallig die kleiner hond raak urineer.
Ek twyfel of die urine enige velprobleem sal veroorsaak, maar ek kan verstaan dat dit effens onhigiënies is. Jy kan dalk probeer om die groter hond se aandag af te trek terwyl die kleiner een urineer, sodat die kleintjie darem tyd het om uit die pad te kom. Maar dit sal nie help vir die kere wat jy nie by is nie! Ek dink jy moet maar saamleef met die probleem en die klein hondjie gereeld afvee met 'n klam lap.
29 Januarie 2008