Landbou
Bul lewer net bulletjies
Dr. FAFFA MALAN

Vraag:
Kan 'n Afrikanerbul sowel vers- as bulkalwers voortbring? Tot dusver het my bul slegs bulletjes gemaak -Vanya Terblanche (vterbla2@ford.com)

Antwoord:
Die geslag van 'n kalfie word, net soos by die mens, deur die manlike sperm wat of 'n X- of Y- chromosoom bevat, bepaal. As die sperm met 'n X-chromosoom die eisel bevrug, sal dit 'n verskalf wees. As dit 'n Y-chromosoom is, sal dit 'n bulkalf wees. Daar is dus 'n 50:50 kans dat dit 'n vers- of bulkalf sal wees.

Jy ken sekerlik families waar daar net seuns of net dogters gebore is! Oor die lang termyn sal daar van 'n bul eweveel bulletjies en versies gebore word.

Die tegnologie het nou al so ver gevorder dat daar vir sperme geselekteer kan word deur 'n masjien wat 'n 4% verskil in DNA inhoud tussen manlike (Y) en vroulike (X) sperme kan onderskei.

Die eerste stap in die prosedure is om sperme tot 'n baie lae konsentrasie te verdun en dan met 'n fluoriserende kleurstof te kleur. Die monster word dan met 'n hoë spoed en druk deur 'n vloeisitometer gestuur. As die sperme deur 'n interne laserstraal beweeg, word die fluoriserende kleurstof geaktiveer. Omdat die X-chromosoom groter as die Y-chromosoom is fluoriseer die X-chromosoom meer as die Y-chromosoom. Opspoorders meet die hoeveelheid fluorisering en allokeer of 'n positiewe of 'n negatiewe lading na gelang van die lesing aan elke druppel wat 'n enkele sperm bevat.

Die stroom word dan in drie geskei. Positiewe lading druppels wat een geslag bevat, word geskei van negatiewe lading druppels wat die teenoorgestelde geslag bevat. Druppels wat geen lading bevat nie,(meertallige sperme of ongeïdentifiseerde sperme) word nie opgevang nie. Sperme wat so geselekteer word, is 15-20% minder vrugbaar en kan nie vir embriospoelings gebruik word nie. As saad vir kunsmatige inseminasie (KI) aangekoop word, is die koste ook drie keer duurder.

'n Koei kan dan met so 'n semenstrooitjie geïnsemineer word en jy is verseker van die geslag wat gebore gaan word indien die inseminasie suksesvol is.

Daar is 'n geloof dat sperme wat die Y-chromosoom bevat vinniger swem, maar 'n korter leeftyd het. Die omgekeerde is glo waar vir X-chromosoom bevattende sperme. Hulle swem stadiger, maar leef langer. As die koei bevrug word voordat sy ovuleer, gaan die X sperme 'n beter kans hê want hulle leef langer terwyl die vinnige Y sperme gaan wen as die koei bevrug word nadat sy al geovuleer het. Hierdie geloof is egter nog nie wetenskaplik bewys nie. Hoop jou volgende kalfie wat gebore word, is 'n versie.

  • Geskryf deur dr Faffa Malan, Intervet 'n deel van Schering-Plough.
    Bron: Inligting voorsien deur MC Steyn, ABS Produktebestuurder in Suid-Afrika (absmc1@mweb.co.za).

    1 Februarie 2008