Vraag:
Ek soek raad vir 'n perd wat kroniese sandkoliek het - Cornie Loubser (kloubser@mweb.com.na).
Antwoord:
Koliek is vandag nog die grootste oorsaak van vrektes by perde. Daar is verskeie oorsake van koliek en in baie gevalle is sand die algemeenste oorsaak van koliek. Sandkoliek word veroorsaak deur die aansameling van sand, tot soveel as 70kg wat op die bodem van die perd se maag lê.
Laegraadse pyn ontstaan a.g.v. die gewig van die sand wat die bloedtoevoer afsny deur drukking. Die gevolg is dat die perd swak eet sonder om erge koliektekens te wys. As die hoeveelheid sand toeneem, kan 'n lus van die derms totaal geblokkeer raak. Voor die blokkasie bou 'n groot volume van kos en water op. Die druk wat hier ontstaan, gaan óf die sand uitdruk óf die derm gaan bars met gevolglike vrekte.
Oorsake
Perde vreet sand saam met hulle kos. Hulle hou daarvan om hulle kos uit te sprei op die grond as hulle vreet. As hulle kosbakke te klein is, sal hulle die kos op die grond uitsprei en van die grond af eet. Hulle lippe is nat en met elke mondvol word 'n bietjie sand ingeneem. Perde vreet kort teen die grond en as gras uitgetrek word, word grond saam met die wortels ingeneem.
Jong perde is ook geneig om grond te vreet, maar ontgroei hopelik die gewoonte. As ouer perde grond vreet, is die oorsaak gewoonlik 'n sout- en mineraaltekort. Verveeldheid en stres kan ook aanleiding tot die vreet van grond gee.
Siektetekens
Dit kan maande neem vir die sand om op te bou. Gewoonlik is 'n diarree die eerste teken. Die perd eet swakker weens die ligte pyn in die dermkanaal en verloor gewig. Soms kan jy 'n geluid van water wat deur sand spoel in die laer gedeeltes van die maag hoor.
Toets of perd sand vreet
Neem ses stukke perdemis en plaas dit in 'n glashouer. Maak die fles halfvol met water en skud goed op. Laat staan vir 15 minute en kyk of daar sand afsak. Dit is 'n goeie teken as daar sand afsak, want dit beteken dat die sand ten minste deurgewerk word. Daar moet nou daarop gekonsentreer word hoe om die sandinname te verminder.
As daar geen sand op die bodem vorm nie, beteken dit dat die perd geen sand inneem nie of dat geen sand deurgewerk word nie. Herhaal die toets vir 'n paar dae. As die toets elke keer negatief is, voer psyllium elke dag vir 'n week. As daar nog geen sand teenwoordig is nie, beteken dit heelwaarskynlik dat die perd nie sand inneem nie.
Verwydering van sand
Die normale peristaltiese sametrekkings van die derms laat die sand deur die derms beweeg. Gereelde oefening speel 'n groot rol om die derms te help om van die sand ontslae te raak. Die op en af beweeg wanneer 'n perd trippel of gallop kan selfs 'n harde klont laat opbreek. Na oefening is dit belangrik dat perde genoeg growwigheid soos byvoorbeeld lusern en hooi inkry. Konsentrate en vitamienes speel nie 'n rol om sand te verwyder nie. Psyllium is die beste voer om sandkoliek te voorkom. Baie perde-eienaars glo dat plantolies sand sal laat deurbeweeg, maar dit is nie die geval nie.
Behandeling
Skakel eers ander gevalle van koliek soos bv inwendige parasiete uit. Raadpleeg jou veearts.
Oefening is die beste manier om die sand-impaksie los te kry. Loop met die perd en hardloop 'n entjie elke nou en dan. Moenie dat die perd uitgeput raak nie. Laat die perd gereeld water drink. Semels is 'n goeie bron van vessel en 'n waterige semelsop kan wondere verrig. Wanneer sandkoliek vermoed word, kan groot hoeveelhede gegee word. Daar kan selfs stukke wortels bygevoeg word om die sop meer aantreklik te maak.
As die tekens nie gou verdwyn nie laat jou veearts jou kom help. As die perd beter is en sandkoliek wel vermoed word, voer psyllium elke dag vir een tot twee maande. Daar is 'n produk Equisyllium, V18134 van Cipla Vet op die mark wat psyllium bevat en vir akute en chroniese gevalle van sandkoliek asook vir voorkoming gebruik kan word. Skakel met u veearts vir meer besonderhede.
Voorkoming
Sandkoliek kan voorkom word. 'n Perd wil sy kos uitsprei en sal gewoonlik alles opvreet. 'n Perd eet met sy kop ondertoe. Hoe hoër die krip van die grond af is hoe groter is die kans dat perde kan stik, koliek of respiratoriese siektes kan kry.
Die beste is om 'n voerspasie op grondvlak te maak, ongeveer 1,5 meter lank met sye hoog genoeg sodat die voer nie gemors word nie. Plaas rubbermatte om voerbakke. Voer kan selfs op rubbermatte uitgegooi word. Plaas hooi in nette. Moenie perde op te kort sanderige weidings laat loop nie.
Soutblokke kan ook uitgesit word. Om verveeldheid te verminder kan speelgoed vir jong perde uitgeplaas word. Voorbeelde is bande en plastiese melkbottels met klippies in.
1 Februarie 2008