Landbou
Skape hiperventileer
Prof. ROY MEINTJIES

Vraag
Ek het twee skape (Dorpers) wat, wanneer hulle in die veld wei op 'n warm dag, asemhaal asof hulle 'n goeie entjie gehardloop het. Die tonge hang uit en hulle haal vinnig en hard asem asof hulle skoon uitasem is. Hulle kondisie is goed. Dis ooie wat twee maande gelede gelam het en hulle is ook so 'n maand gelede geskeer. Kan u my hier help asb? - Helena (helena@plotnet.net)

Antwoord
Diere (en die mens) hiperventileer (haal vinniger asem) vir 'n verskeidenheid van redes soos byvoorbeeld:

  • wanneer hulle oefening kry,
  • wanneer hulle fisies gestres raak,
  • wanneer hulle opgewonde raak,
  • wanneer die longe aangetas is bv met longonsteking of jaagsiekte,
  • wanneer daar probleme met die borsholte is en dit pynlik is om asem te haal soos bv wanneer daar frakture van die ribbes is, is die asemhaling vinnig en vlak
  • om liggaamstemperatuur te reguleer: baie vinnig in warm weer. Gedurende die vinnige asemhaling verdamp water van die oppervlakte van die turbinaat bene in die neusholte. In hierdie proses waar vloeistof in gas verander word, word energie (hitte) vanuit die omringende weefsel getrek en die bloed word sodoende afgekoel. Skape en beeste haal vinnig asem met geslote bekke behalwe as dit baie warm is.

    Vanweë die feit dat skape relatief min sweetkliere het, is vinnige asemhaling 'n baie belangrike meganisme om deur verdamping van hitte ontslae te raak.

  • Geskryf deur prof Roy Meintjes, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria. (roy.meintjes@up.ac.za)

    5 Februarie 2008