Landbou
Reunhond los sy merk
Dr. QUIXI SONNTAG

Vraag:
Ek het vier honde op die erf (twee Afgane, een Springer spaniel en een Jack Russeltjie). Drie is tewe waarvan een reeds gesteriliseer is en die ander twee nog jonk is. Die reun (Afgaan) het nou 'n gewoonte om van tyd tot tyd op die ander hond se beddegoed te urineer. Hy sal ook, as my man hard met hom praat, na die kamer loop en op my man se bed natmaak. (My man dink nie dit is snaaks nie). Hoe kan ek hom afleer om dit te doen? - Sandra Harding (sharding@sacms.com)

Antwoord:
Hierdie soort urinering is kenmerkend van sosiale spanning - spanning tussen die honde of tussen mense en honde. Die enigste teken is dikwels die ontoepaslike urinering. Die urinering is die simptoom, dus moet die oorsaak gevind en behandel word. So 'n probleem kan redelik gekompliseerd wees en dan is dit beter om 'n deeglike konsultasie met 'n gedragskundige te onderneem. Intussen kan ek die volgende aanbeveel:

  • Moet glad nie met hom raas nie (vir niks nie, en veral jou man) want straf en raas maak altyd die probleem erger.
  • Wees meer oplettend vir sy goeie gedrag (nie probleemgedrag nie!) en beloon hom gereeld as hy hom goed gedra. Beloon hom met 'n heerlike, maar klein, lekkernytjie. Hou die lekkernytjies gereed orals in en om die huis, of in jou sak! Hierdie soort duidelike terugvoer spreek dikwels die spanning tussen hond en mense aan.
  • Gee hom roetines en struktuur - bv voer op min of meer dieselfde tyd elke dag, laat hom op dieselfde plek slaap elke nag, gee goeie kwaliteit aandag elke dag (maar nie aanhoudend nie) en wees baie konsekwent en voorspelbaar.
  • Ignoreer hom heeltemal as hy op aandag aandring, maar gee aangename aandag wanneer hy niemand pla nie.

    Hierdie paar basiese beginsels kan genoeg wees om die hond kalmer te laat voel sodat hy nie meer die behoefte het om op sekere plekke sy merk te los nie.

  • Geskryf deur dr Quixi Sonntag, Edupet Veterinary Consulting (quixi@mweb.co.za).

    5 Februarie 2008