Vraag:
My honde hou aan om die katte se sandbak uit te krap en die mis te eet. Is dit net 'n slegte gewoonte of is daar 'n tekort in hul dieet? Is dit nie dalk ongesond vir hulle nie?-
Johan van Aardt (johanv@ssi.co.za)
Antwoord:
Die eet van katmis is normale gedrag vir honde. Honde eet meeste soorte mis en rol ook graag in allerlei onwelriekende (sleg ruikende) materiaal. Dit het waarksynlik met feromone te doen.
Feromone is chemiese stowwe wat deur 'n individuele dier geproduseer word en uitgeskei word in die omgewing. Hierdie kenmerkende reuke van feromone kan verskeie effekte op die gedrag en/of fisiologie (werking van alle prosesse in die liggaam van lewende organismes) van ander diere hê.
Feromone is byvoorbeeld verantwoordelik vir die aantrekking van reuns na tewe wat op hitte is. Honde eet definitief nie mis omdat hulle 'n voedingstekort het nie. Omdat sekere wurms en toksoplasmose in beide honde en katte voorkom, kan die eet van katmis lei tot die oordraging van hierdie parasiete vanaf katte na honde. Dit sal dus 'n goeie idee wees om die katsandbak iewers te probeer plaas waar dit nie so maklik bereikbaar vir die hond is nie.
12 Februarie 2008