Vraag:
In die Sandveld in die Wes-Kaap kry 'n mens dat lammers sand vreet en vrek. Wat kan die probleem wees? - Arno (intervet@telkomsa.net)
Antwoord:
Lammers wat sand vreet in die Sandveldgebied is 'n algemene verskynsel. Die oorsaak daarvan is spoorelementtekorte en/of 'n tekort aan melk vir sogende lammers en in die geval van weidende diere 'n tekort aan weiding. Meestal is dit 'n spoorelementtekort.
Tekorte wat algemeen in hierdie gebied voorkom is kobalt, koper, sink, mangaan en selenium.
My aanbeveling sal wees dat u veearts die lewers van 'n paar dooie lammers moet wegstuur om 'n spoorelementontleding te laat doen om kopertekort te bevestig. Indien daar wel 'n kopertekort is, moet Multimin (G2145) met koper gespuit word asook Vitamien A en E. Kobalt kan nie ingespuit word nie, want dit word in die rumen deur die mikrobes gebruik en daarom moet dit gedoseer of deur lekke gevoer word. Jong, sogende lammers se rumen is nog nie ten volle ontwikkel nie en daarom moet hulle met 'n Vitamien B12-inspuiting ingespuit word.
In hierdie omgewing moet ooie 'n lek (250 kg Voermol Maxiwolkonsentraat + 200 kg grane + 50 kg sout) teen 300 tot 500 g/ooi/dag vanaf ses weke voor lam tot speen van die lammers gevoer word. Indien daar nie voldoende weiding is nie, moet 'n volledige rantsoen gevoer word (laat die persoon my skakel sodat ek die rantsoen vir hom korrek kan formuleer met die grondstowwe wat hy beskikbaar het).
Vroeër dae is daar beweer dat indien die sogende lammers ysterdekstraan (dieselfde wat ons by die varke gebruik) binnespiers gespuit word die probleem van sandvreet verdwyn.
Daar is ook beweer dat indien lammers bloednier gespuit word die probleem verdwyn. My aanbeveling sal wees dat hulle definitief 'n multiklostridiale entstof spuit bv Multiclos (G3392).
Laat die persoon my direk skakel indien die probleem nie verdwyn nie.
11 Februarie 2008