Landbou
Swak besetting van Dorperooie
Drs. JASPER COETZEE en FAFFA MALAN

Vraag:
Ek gebruik 'n stelsel waarmee ek elke twee maande 'n groep van 200 ooie paar. Skielik ondervind ek met die laaste twee keer wat ek geskandeer het dat my konsepsiesyfer onderskeidelik 51% en 60% was.

Ek het aan verskeie opsies gedink wat die probleem kan wees. Ek hou my ramme 40 dae by die ooie en dan kry hulle 20 dae rus voordat hulle weer na die volgende trop ooie gaan. Kan dit wees dat my ramme te min ruskans kry of moet ek verder soek? -Johan Dercksen (jjd@telkomsa.net)

Antwoord:
Die swak besetting van die Dorperooie kan aan verskeie faktore toegeskryf word. Die heel waarskynlikste is:

  • Teelramme moet ten minste twee maande tussen dekseisoene rus waartydens hulle prikkelvoeding ontvang en ook weer topfiks gekry word. Klik hier om meer oor die "Ramfaktor" te lees. Tydens hierdie periode moet maksimum testisgroei en spermontwikkeling plaasvind. Indien daar elke twee maande 'n paarseisoen is, kry twee stelle ramme en laat elke stel net elke tweede maand werk terwyl die ander stel gerus en vir die volgende paarseisoen voorberei word.

  • Teelramme moet vier weke voor elke paarseisoen 'n volledige geslagsgeskiktheidstoets ondergaan.

  • Die ooie self kan ook die oorsaak van die lae besetting wees. Ooie moet ook prikkelvoeding voor die paarseisoen ontvang en moet in 'n uitstekende kondisie met paring wees. Klik hier om meer oor "Prikkelvoeding" te lees.

  • Indien die ooie die eerste twee maande van laktasie te veel massa verloor, sal hulle 'n lae lampersentasie met die daaropvolgende lamseisoen hê. Klik hier om meer oor die "Voedingstatus van ooie ses maande voor paring" te lees.

  • Dit word nie duidelik genoem of die ooie in 'n versnelde paarstelsels is waar hulle elke agt maande lam nie, indien wel, sal die ooie se lampersentasie afneem omdat hulle nie voldoende rus kry om die massa wat hulle tydens laktasie verloor het te herwin nie. Ooie met sogende lammers sal ook 'n laer besetting hê.

  • Lae besetting kan ook aan resorbsie en fetale afsterwing toegeskryf word indien ooie aan oormatige stres soos hantering, te lae voedingspeil, ens. blootgestel word. Ooie moenie binne ses weke nadat die ramme uitgehaal is, geskandeer word nie. Klik hier en lees meer oor die "Onsigbare winsvreter."

  • Geskryf deur dr Jasper Coetzee, Tegniese Bestuurder, Voermol (jasperco@iafrica.com).

    Lees ook die soortgelyke artikels wat regsbo gelys is en die onderstaande artikels wat onder Vra vir Faffa op hierdie webwerf gepubliseer is: 2207534 Onvrugbaarheid by ramme
    1921704 Bestuursriglyne vir skape en bokke
    2176470 Skaduwee vir skape
    2051063 Geslagsrypheid van ramme
    2051058 Gedraaide teelballe
    2021351 Toets vir dragtigheid by skape
    1979326 Riglyne vir sinchronisasie van ooie
    1941538 Berei teelbulle en ramme voor vir paarseisoen
    1866759 Bybalontsteking by ramme

    Daar moet ook onthou word dat die gebruik van lewende entstowwe ramme se vrugbaarheid kan benadeel asook ooie eiselle kan laat resorbeer of ooie laat aborteer. Lees aanwysings van entstowwe wat gebruik word sorgvuldig deur. Sekere wurmmiddels moet ook nie aan ooie in die eerste stadium van dragtigheid gegee word nie.

  • Geskryf deur: dr Faffa Malan, Intervet 'n deel van Schering-Plough.

    13 Februarie 2008