Graweelstene in die urienbuise
Dr. FAFFA MALAN
Vraag:
Ek het 30 hamellammers in 'n voerkraal en het 'n lam verloor wat nie kon urineer nie. Wat kan ek doen om die toestand te voorkom? - Liezet Kritzinger
Antwoord:
As daar 'n gedeeltelike of totale obstruksie van die urienbuise as gevolg van graweelstene is, kan die dier nie urineer nie of as daar gedeeltelike obstruksie is, drup die uriene uit die skede. Uriene dam terug, en as gevolg van die druk wat opbou, kan die urienbuis skeur en begin lek en die blaas kan selfs bars. 'n Ander naam vir die toestand is urolitiase of blaasstene.
Siektetekens:
Dier toon tekens van ongemak, probeer om te urineer, die dier druk (pars), uriene wat 'n bloederige kleur mag hê kan uit die skede drup, die dier toon tekens van pyn (steun) en kners op die tande. Vinnige asemhaling word opgemerk en dikwels word uriene ook geruik en as die urienbuis lek, is daar 'n swelsel onder die pens as gevolg van uriene wat tussen die weefsels uitlek.. As die penis van 'n ram of hamel uitgetrek word, mag die kop van die penis donkerrooi tot swart gekleurd wees en mag daar selfs 'n steentjie in die swepie vooraan die penis gesien of gevoel word. Diere wat nie behandel of geopereer word nie, vrek gewoonlik.
Voorkoms:
Verstopping deur steentjies kom die meeste voor in manlike diere omdat hulle urienbuise lank en nou is. In gekastreerde diere is die urienbuise se deursnee nog kleiner wat tot gevolg het dat die insidens van uriensteen verstopping in die klas diere nog groter is. Diere wat gevoer of vir skoue voorberei word, het ook'n hoër insidens van urolitiase agv die rantsoen wat gevoer is.
Oorsake:
Daar is 'n verskeidenheid van soorte stene wat in kleinvee voorkom, dus ook 'n verskeidenheid van oorsake. Sommige steentjies kom veral op veldweiding voor terwyl ander weer in die voerkraalsituasie voorkom.
Vir die vorming van steentjies (graweel) is 'n kern nodig wat uit selle of dooie weefsel kan bestaan. Om hierdie kern slaan die kristalletjies dan neer om die steentjies (graweel) te vorm. Daar is ander faktore wat ook 'n rol mag speel in die vorming van steentjies soos 'n vitamien A tekort asook hoë estrogeenvlakke wat tot gevolg het dat meer selle afskilfer.
Steentjies kom die meeste voor by diere wat gevoer word, veral waar
rantsoene hoog in konsentrate is. Dié stene staan bekend as fosfaatstene of struviet.
Steentjies wat fosfaat bevat, kom voor waar fosfate te hoog in die rantsoen is (gewoonlik meer as 0,35%). Waar fosfate hoër as 0,8% in die rantsoen was, het 73% van diere steentjies gehad. Bydraende faktore tot die voorkoms van fosfaatblaasstene is die vorm waarin die fosfaat voorkom, die soort van graan wat in die rantsoen gebruik word, of die voer verpil word, weersomstandighede, stremming, hormone, en die vlakke van magnesium, natrium, kalium, chloriede, karbonate, en ammonium in die rantsoen.
Die kalsium tot fosfaatverhouding is uiters belangrik. As die verhouding van kalsium tot fosfaat laer is as 2 dele kalsium tot 1 deel fosfaat, waar hoë fosfaat rantsoene gegee word, kan probleme verwag word.
Suurgehalte (pH) van uriene speel 'n belangrike rol in die voorkoms van steentjies. Fosfaat- en karbonaatstene kom eerder voor in 'n alkalise omgewing eerder as in 'n suur medium. As die rantsoen aanleiding daartoe gee dat die uriene alkalies word, sal dit die voorkoms van graweelstene verhoog. As ammoniumchloried of ammoniumsulfaat by rantsoene gevoeg word, word die suurgehalte van die uriene verhoog en gevolglik word die voorkoms van steentjies minder.
As die uriene gekonsentreerd is, vind daar 'n neerslag van soute plaas. Die voorkoms van steentjies verhoog waar diere nie genoegsame hoeveelhede water, veral in warm weer, tot hulle beskikking het nie.
Plante met hoë vlakke van oksalate, estrogene en silika dra by tot die vorming van steentjies.
Daar word vermoed sekere Karoobossies wat skape vreet, steentjies veroorsaak. Steentjies wat vorm bestaan oorwegend uit kalsiumkarbonaat.
Daar is gevind waar herkouers kort periodes vreet wat opgevolg word met lang periodes van herkou, die voorkoms van graweelsteentjies baie hoër is.
Nadoodse tekens:
Die karkas is waterig met 'n uriene reuk. Daar is uriene in die buikholte as die blaas gebars het. Indien die blaas nog nie gebars het nie, is die blaas baie vergroot met uriene en is ontsteek en bloederig. Die niere is ook vergroot en waterig. As die urienweë en blaas oopgesny word, word 'n steen of stene en/of graweel gevind. Die graweel kompakteer baie keer in die urienbuisie en voel en lyk soos fyn seesand. Voerkraal (fosfaat) stene lyk baie soos krummelpap of growwe sout met geen bepaalde vorm nie. Versoek u veearts om vir u toetse te laat doen, wat die samestelling van die steentjies en die moontlike oorsaak van die probleem bepaal.
Behandeling:
Daar is chirurgiese prosedures wat deur u veearts uitgevoer kan word om waardevolle diere se lewens te red indien die toestand vroeg genoeg gediagnoseer is. Indien dit die enigste blokkasiepunt is, kan die swepie voor aan die kop van die penis van ramme en hamels afgesny word sonder dat ramme se vrugbaarheid en dekvermoë beïnvloed word.
Waar uriene nog effens gepasseer word en daar vermoed word dat fosfaatstene betrokke is, kan ammoniumchloried deur die bek gegee word (5gram per dag vir 5 dae vir skape en 45 gram per dag vir 5 dae vir beeste.)
Voorkoming:
Verhoed dat aan ramme en hamels te hoë fosfaatrantsoene gevoer word. Die fosfaatpeil behoort nie hoër as 0,3% te wees nie.
Die verhouding van kalsium tot fosfaat moet tussen 2,5:1 en 4:1 wees.
Voerkalk maak uriene alkalies, wat steenvorming verhoog en daarom is kalsiumchloried beter. Deur soutsuur by voerkalk te voeg, kan die kalk na kalsiumchloried verander word. Die hoeveelheid voerkalk wat benodig word, is 0,5 tot 1%, mits die fosfaatinhoud van die rantsoen nie te hoog is nie. Tydens 'n uitbreek kan ammoniumchloried ook teen 0,5% van die rantsoen gebruik word. Kontak u voerverskaffer.
Indien dit bekend is dat in sekere kampe 'n hoë insidens van graweelstene voorkom, kan ooie die kamp bewei. Gereelde dosering van ammoniumchloried sal ook help om steenvorming te voorkom.
Waar urolitiase 'n groot probleem is, kan lammers op 'n hoër ouderdom of glad nie, gekastreer word.
Geskryf deur dr. Faffa Malan, Intervet 'n deel van Schering Plough.
15 Februarie 2008
Bronne:
Blood D C, Radostits O M en Henderson J A. 1983 Veterinary Medicine. Baillière Tindall, London ISBN 0 7020 0987 3
De Wet J en Bath G.1994 Kleinveesiektes Tafelberg-Uitgewers Beperk. ISBN 0 624 03203 5