Landbou
Nóg 'n waghond
Dr. QUIXI SONNTAG

Vraag:
Ons het drie kinders onder vyf jaar: twee worsies, een pitbull, een Great Dane en een Weimaraner. Almal is tewe en gesteriliseer, behalwe die Weimaraner. Ons bly op 'n plaas, so veiligheid is 'n groot prioriteit.

Die groot honde is baie goed gesosialiseerd en deel van die familie. Hulle is beskermend teenoor die kinders en redelik gehoorsaam. Ons wil nog 'n waghond aanskaf, maar weet nie watter ras (teef of reun) by ons sal inpas nie?

My man wil nog 'n pitbull (sy is reeds die dominante een) kry, maar ek is bang twee van dieselfde soort span dalk saam en karnuffel die res. Ek wil ook nie my kinders in gevaar stel met die verkeerde keuse nie -Yolandi Immelman (willie_immelman@yahoo.com)

Antwoord:
Vyf honde onder een dak, almal tewe, is reeds 'n uitstekende resep vir bakleiery tussen honde! As al hierdie honde al ouer as twee jaar is, is jy baie gelukkig dat hulle nog nie begin baklei het nie. As daar honde is wat twee jaar of jonger is, het die sosiale sisteem nog nie gestabiliseer nie en kan daar nog probleme ontwikkel. Op twee jaar (ongeveer) bereik honde sosiale volwassenheid en dit is die tyd wanneer honde wat vantevore baie goed klaargekom het, skielik begin baklei.

Hoe meer honde jy bykry, hoe groter word jou risiko vir probleme tussen die honde. Hierargie is dinamies - die idee dat een hond in 'n groep die "dominante" of "alfa" hond is, is wetenskaplik nie korrek nie - verskillende honde kan dominant optree in verskillende omstandighede. Dieselfde hond kan dominant en onderdanig wees - dit is nie 'n etiket wat mens ongeag omstandighede aan 'n spesifieke hond kan koppel nie. Dit hang af van elke individuele hond in 'n groep se persoonlikheid en vorige ondervindings.

Dus kan mens nie voorspel watter honde met ander honde sal baklei nie, alhoewel ras 'n groot rol kan speel. Ek sou beslis nie nog 'n pitbull kry nie - dit gaan verseker die kanse op aggressie baie verhoog. Ook liewers nie nog 'n teef nie, maar om eerlik te wees, sou ek liewers stop by vyf honde en nie verder kanse neem nie!

  • Geskryf deur Dr. Quixi Sonntag (BVSc)(Hons) EduPet Veterinary Consulting (www.edupet.co.za)

    18 Februarie 2008