Landbou
Wat laat perde hoes?
Dr. BARRY COATES

Vraag:
My perde hoes - wat kan die moontlike oorsake wees?

Antwoord:
Die longe, hart en spiere van perde maak van hulle die uitsonderlike atlete wat hulle is! Vir 'n atleet soos 'n perd is sy longe baie belangrik. In hierdie antwoord word die belangrikste asemhalingskondisies en -siektes bespreek, veral dié wat perde laat hoes en hoe om hulle te voorkom.

Daar is 'n paar siektes wat nie noodwendig hoes as primêre siekteteken veroorsaak nie, maar wat tog belangrike asemhalingsiektes is wat genoem moet word. Dit is verder belangrik om jou veearts gou te betrek en om soveel inligting moontlik aan hom/haar beskikbaar te stel.

As mens begin met die aansteeklike siektes, hou die Perdegriepvirus die meeste gevaar in, hoofsaaklik weens die kort inkubasieperiode (1-3 dae) en die spoed waarmee die siekte kan versprei. Dit kan deur die wind versprei word en daarom tref dit gewoonlik groot getalle perde tydens uitbreke.

Perdegriep is meer algemeen onder jonger perde. Dit was perdegriep wat in 2003 die perdesport industrie lamgelê het - en 'n groot bydraende oorsaak was die groot getalle perde wat nie ingeënt was nie, en die perde wat wel ingeënt was en aangetas is, was heel moontlik met 'n entstof geënt wat nie die jongste perdegriepstamme bevat het nie.

Perdegriep begin met 'n hoë koors, lusteloosheid, 'n loopneus (waterige neusuitskeiding), 'n baie droë hoes wat mag oorgaan in bakteriese longontsteking en selfs die perd se spiere word aangetas. Soos by die meeste virusinfeksies, is dit krities om te rus - die perd moet vir minstens 'n week gerus word nadat die siektetekens verdwyn het. Die behandeling moet deur 'n veearts, en slegs 'n veearts, gekoördineer word. Die heel beste is om die siekte in die eerste plek te verhoed deur inenting. Maak seker dat u 'n entstof gebruik wat die heel jongste perdegriep virusstamme bevat.

Voorbeelde is Equilis Resequin, G3142 wat perde immuniseer teen perde herpesvirus infeksie asook teen die perdegriepvirus asook twee nuwe entstowwe teen perdegriep, naamlik Equilis Prequenza (G 3775) en Equilis Prequenza te (G3774), lg immuniseer perde teen beide perdegriep en tetanus.

Die volgende virus wat belangrik is, is die Perde herpesvirus (EHV). Daar is verskeie tipes, Tipe 1(EHV-1), wat verantwoordelik is vir 'n ligte asemhalingsiekte, asook aborsies by merries en senusimptome. Tipe 4 (EHV-4), is 'n baie algemene oorsaak van asemhalingsiektes, veral by perde jonger as 3 jaar. Hulle siektetekens begin met 'n loopneus, wat later al dikker word en geel, groen of wit van kleur is. Die behandeling van EHV is meer kompleks omdat die sekondêre infeksie baie algemeen is en gepaardgaan met die opbou van etterige slym. Dit is 'n goeie plan om perde met 'n geblokte asemhalingskanaal van die vloer af te laat vreet en sodoende 'n beter dreinering van die neusholtes aan te help. Verminder die stof in die stal en oorweeg om die voer klam te maak om ook te voorkom dat die perde stof inasem terwyl hulle vreet. Weereens behoort 'n veearts betrokke te wees en behoort die siekte voorkom te word deur inenting. Daar is entstowwe op die mark wat albei die perdeherpesvirus tipes (EHV-1en EHV-2) bevat bv Equilis Resequin (G 3142).

Rinovirus en Adenovirus is twee ander virusse wat gewoonlik asemhalingsprobleme by jong perde veroorsaak. Tensy daar ernstige sekondêre bakteriese komplikasies ontstaan, klaar hulle gewoonlik self op met behulp van simptomatiese behandeling. Daar is geen entstof teen hierdie virusse beskikbaar nie. Dit is gewoonlik moontlik dat een van hierdie virusse 'n perd kan aantas sonder dat mens weet wat die "gehoes" veroorsaak. 'n Veearts kan met behulp van 'n laboratoriumtoets 'n diagnose maak.

Daar is ook 'n paar bakteriese siektes wat asemhalingsiektes kan veroorsaak.

  • Nuwesiekte/ "Strangles" (Streptococcus equi) is waarskynlik die gevaarlikste, weereens vanweë die vinnige en effektiewe verspreiding daarvan.
  • Rhodococcus equi is 'n bakterie wat absesse in die longe van jong perde (jonger as 6 maande) veroorsaak. Dit word gewoonlik verbind met 'n stowwerige omgewing en jaargety en word ook geassosieer met ongereelde ontwurming. Die siekte begin ook met 'n koors en die ander siektetekens soos neusuitloopsel, hoes en sukkel om asem te haal (dispnee) wissel in intensiteit. Om 'n definitiewe diagnose van R. equi te maak, is moeilik. Wat baie van hierdie aansteeklike siektes moeilik maak om te diagnoseer, is die feit dat hulle hoofsaaklik die jonger perde affekteer - daarom sal 'n volledige inentingsprogram jou gemoedsrus gee en jou perde toelaat om beter "asem te haal"!

    Weerkerende Lugwegobstruksie (voorheen verwys na COPD) of bevangenheid is 'n moeilik bepaalbare kondisie. Alhoewel daar 'n paar beduidende verskille is, is die maklikste manier om dit te verduidelik deur te verwys na asma by mense. Bevangenheid word dikwels verbind met stowwerige hooi, 'n stowwerige omgewing of baie organiese materiaal in die lug.

    Dit is ook meer algemeen by volwasse perde (ouer as 5 jaar). Jou veearts sal 'n deeglike geskiedenis verlang en die eienaar van die perd sal deur 'n veeleisende proses van eliminasie moet gaan om vas te stel wat die spasma in die lugweg veroorsaak. Die diagnostiese toetse is nie goedkoop nie en die perd sal lewenslank behandeling benodig - weereens net soos asma by mense.

    Baie van hierde kondisies kan deur behoorlike bestuur voorkom word, veral wat voeding- en stalbestuur en deur goeie entstowwe op hul voorgeskrewe intervalle toe te dien.

  • Geskryf deur dr, Barry Coates, Intervet, 'n deel van Schering Plough.

    29 Februarie 2008