Vraag:
Ek wil graag meer inligting bekom oor tetanus (klem-in-die-kaak) by perde.
Antwoord:
Kan jy dink hoe dit is as jou spiere in so 'n spasma is dat jy nie kan staan of jou balans behou nie? Of kan jy dink hoe dit is om nie te kan asemhaal nie en te versmoor omdat jou asemhalingspiere ook in spasma is? 'n Ontstellende gedagte, nie waar nie? Dit is wat met perde gebeur wat aan tetanus ly -en die situasie word vererger deur die feit dat perde, van alle diere in die wêreld, die vatbaarste vir tetanus is!
Dit is werklik waar; perde is die vatbaarste vir tetanus, gevolg deur die mens en dan skape en bokke. Ander soogdiere en voëls is vatbaar, maar minder en in wisselende grade. Tetanus, of klem-in-die-kaak soos dit soms genoem word, word veroorsaak deur 'n bakterie Clostridium tetani. Hierdie bakterie is anaerobies wat beteken dat dit groei in weefsel wat swak met suurstof verbind is, m.a.w. geen lug bevat nie. Die belangrikheid hiervan sal later verduidelik word.
Die spore van Clostridium tetani kom voor in mis en in die grond en kan baie lank in die grond oorleef. Hulle word gevaarlik wanneer hulle in 'n lae suurstofomgewing soos in diep, septiese wonde beland. Dit is hier waar die probleme begin, omdat die wond waardeur die bakterie die liggaam binnedring, dikwels baie klein is en soms selfs al genees het teen die tyd dat die eerste tekens van tetanus tevoorskyn kom.
Diep, indringende wonde, soos 'n spyker in die perd se hoef, voorsien 'n ideale omgewing vir die spore van die bakterie om 'n kragtige toksien vry te stel wat deur die bloed of limfsisteem opgeneem word of met die senuweestelsel vervoer word. Die toksien is 'n senuweegif, wat beteken dat die perd se senuweestelsel aangetas word.
Siektetekens: Na 'n inkubasieperiode van ongeveer 12 dae (dit wissel tussen 3 dae en 3 weke- daarom dus die moontlikheid dat 'n wond reeds kon genees het voor die siektetekens gesien word) mag mens gesperde neusgate sien; geklemde kaak; sterk spierspasmas; 'n uitgestrekte, stywe liggaamshouding; rukkende, regop ore; 'n stywe, regop stertposisie; wydoop, starende oë en die derde ooglidmembraan is effens oor die oog sigbaar.
Geaffekteerde diere gaan uiteindelik op die sy lê en omdat die spiere in spasma is, staan hulle dikwels nie weer op nie - hulle diafragma (wat die belangrikste asemhalingspier is) gaan ook in spasma wat tot gevolg het dat die dier versmoor. Dieselfde verloop en siektetekens kom ook by mense voor. Hoe dieper en hoe vuiler die wond, hoe beter is die kondisies oor die algemeen vir C. Tetani, omdat hulle 'n lae suurstofomgewing benodig.
Behandeling: Om 'n tetanusgeval te behandel, is dikwels onsuksesvol en baie, baie duur - dit behels die toediening van ruim hoeveelhede van tetanus antitoksien (wat nie goedkoop is nie en eintlik slegs werk voor die siektetekens sigbaar word); antibiotika; pynverdowers; spierverslapper en baie intensiewe en aggressiewe verpleegsorg. Wanneer perde eers siektetekens van tetanus wys, het hulle slegs 'n 20% kans op oorlewing, ten spyte van behandeling. En die wat wel oorleef, neem tot 6 weke om volkome te herstel.
Wat kan dan gedoen word as 'n perd 'n diep wond opdoen? Skakel eerstens met jou veearts en bepaal of hy/sy die perd moet kom ondersoek - indien daar onsekerheid bestaan of die perd teen tetanus geënt is, MOET die tetanus antiserum gegee word, veral as tetanus al in die omgewing voorgekom het.
1500-3000 IE moet so spoedig moontlik toegedien word. So ook 'n penisillien teen die aanbevole dosis- dit is beter om 'n kort werkende penisillien een of twee keer per dag toe te dien as om 'n langwerkende penisillien te gee. Dit mag lyk na onnodige ekstra moeite, maar die besluit berus by jou. Is jou perd die ekstra moeite werd?
Die wond moet ook skoon gemaak word met kraanwater. 'n Swak antiseptiese middel mag ook gebruik word, maar hou in gedagte dat sterk ontsmettingsmiddels wel die bakterieë vernietig, maar terselfdertyd ook die weefsel beskadig. Dooie weefsel is nie suurstofryk nie en dit is presies die omgewing waarin anaerobiese bakterieë floreer!
Wanneer bogenoemde gedoen is, is dit belangrik om die tetanus entstof ook toe te dien omdat die antitoksien slegs vir 2-3 weke beskerming bied. Net om die verskil tussen die entstof en die antitoksien te beklemtoon: die entstof sal mettertyd die liggaam stimuleer om teenliggame teen tetanus te vervaardig; die antitoksien is egter gebottelde teenliggame wat van 'n ander dier se bloed verkry is en dit is slegs 'n korttermyn beskermer.
Soos reeds genoem, is hierdie antitoksien slegs effektief in 'n vroeë stadium aangesien dit ontwerp is om met die toksien te bind terwyl dit nog in die bloedstroom is. Indien die senustelsel geaffekteer is, is dit reeds te laat.
Al bogenoemde kan verhoed word deur eenvoudig die perde teen tetanus in te ent. Alle perde behoort aanvanklik twee keer ingeënt te word (4 weke uitmekaar) en daarna jaarliks 'n skraagdosis te ontvang.
Indien dit onseker is of die perde op jou eiendom teen tetanus geënt is, moet hulle twee keer ingeënt word (4 weke uitmekaar) en daarna as deel van 'n jaarlikse inentingsprogram. Sommige entstowwe op die mark sluit ook perdegriep in (bv Equilis Prequenza te, G 3774), wat gerieflik is.
3 Maart 2008