Vraag:
Wat veroorsaak dragtigheidsverliese by perde?
Antwoord:
Hier word verwys na die (somtyds) ongelukkige aspek van die verlies van dragtigheid. Dragtigheidsverliese is nie net sagter op die oor as die term "aborsie" nie, dit is ook meer akkuraat. 'n Aborsie vind streng gesproke eers plaas as die dragtigheid na 6 weke eindig (nadat die fetus se organe ontwikkel het). Voor dié stadium, wanneer die dragtigheid nog in die embriostadium is, word die verlies beskryf as 'n embrioverlies/ embriodood.
(Interessantheidshalwe: embrio is die term wat gebruik word vir 'n konseptus voordat die organe gevorm het - ongeveer 6 weke by 'n perd en 'n koei - daarna word verwys na 'n fetus).
Dit is interessant dat bevrugting suksesvol plaasvind in 90-95% van merries, maar dat die uterus/baarmoeder dikwels nie in staat is om die dragtigheid te behou nie. Daar word dus dikwels die afleiding gemaak dat die merrie nie "gevat" het nie. Die moontlikheid bestaan egter dat sy wel "gevat" het, maar dat die uterus dit nie kon behou nie of daar het embrioverlies plaasgevind. Ongeveer een sesde van alle dragtigheid word voor Dag 11 verloor, nog een sesde tussen Dag 11 en 42 (6 weke) - dit is nog voordat die fetusstadium bereik word (wanneer verlies bekend staan as 'n aborsie).
Die mees algemene oorsaak van embrioverlies (< 6 weke) is endometritis (inflammasie van die uterus, gewoonlik a.g.v. 'n bakteriese infeksie- wat algemeen is by merries wat gedurende vulhitte geteel is); onvoldoende progesteroon; voedingsgebreke en stres. Dit is ook bekend dat hingste onbewustelik bakterieë kan oordra wanneer hulle die merries dek en dit kan lei tot infeksie van die uterus en gevolglike embrioverlies. Nog 'n interessante feit is dat absorpsie van die embrio feitlik nooit by perde, soos by baie ander spesies, voorkom nie. Sy sal altyd die embrio uitskei, maar dit is dikwels te klein om raak te sien.
Die definisie van 'n aborsie is die verlies van dragtigheid na Dag 40 (ongeveer 6 weke). Aborsies word dikwels nie opgemerk nie, veral in die vroeë en middel dragtigtigheid - merries gee nie geboorte soos in gevalle van laat of voltermyn aborsies nie. Die lys van moontlike oorsake van aborsies is baie lank, maar die mees algemene oorsake van aborsies by perde in Suid-Afrika is waarskynlik:
Perde herpesvirus (Tipe 1) is 'n virus wat die fetus (gewoonlik deur die merrie se bloedstroom) kan besmet en 'n aborsie kan veroorsaak op enige tyd van bevrugting, maar aborsies is meer algemeen gedurende die tweede helfte van die dragtigheid. Die virus veroorsaak nie net aborsies nie, maar dikwels ook senusimptome by die merries.
Die uitgeskeide fetus is gewoonlik "vars"- wat beteken dat geen ontbinding in die baarmoeder plaasgevind het nie. Daar is 'n paar metodes om perde herpesvirus te verhoed: kwarantynprogramme wanneer nuwe perde by 'n groep merries gebring word; skei merries wat geaborteer het of senusimptome toon af van merries wat geen van hierdie tekens toon nie. 'n Meer pro-aktiewe metode sal wees om die merries gedurende dragtigheid in te ent met 'n entstof teen perde herpesvirus bv Equilis Resequin, G3142.
Perde galkoors (babesiose) is waarskynlik die tweede mees algemene oorsaak van aborsies in SA. Die parasiet (die protosoa Babesia equi) affekteer gewoonlik die fetus direk en kan op enige stadium van dragtigheid aborsies veroorsaak. Gewoonlik wys die merrie self geen siektetekens van die siekte nie, maar die infeksie is genoeg om die fetus dood te maak.
Perde enkefalose (harsingontsteking) is na perde herpesvirus die tweede mees algemene oorsaak van aborsies veroorsaak deur virusse in SA. Daar moet nog baie geleer word van hierdie spesifieke oorsaak van aborsies. Daar is ongelukkig geen entstof kommersieel beskikbaar teen hierdie virus nie.
Die fetus is gewoonlik geoutoliseer (daar het reeds 'n mate van ontbinding van die fetus binne die uterus plaasgevind) wanneer dit uitgeskei word - wat help om te onderskei tussen enkefalose en perde herpesvirus as moontlike oorsake van die aborsie.
Tweelinge is 'n algemene oorsaak van aborsies by perde. Die plasenta van merries is as 'n reël nie groot genoeg om twee fetusse te onderhou nie. Daarom sal verlies van een fetus, maar meer algemeen die verlies van albei plaasvind indien die dragtigheid voortduur. Indien die merrie wel albei vulletjies hou tot volle dragtigheid (wat slegs in 10% van gevalle gebeur), sal die vullens waarskynlik net een of twee weke leef.
Bakteriese infeksie is ook 'n moontlike oorsaak van aborsie. Die meeste bakterieë verkry deur die serviks toegang tot die uterus.
Wanneer die oorsaak van aborsies vasgestel moet word, is dit belangrik dat die nodige toetse (smere, bloedtoetse) so gou moontlik deur 'n veearts gedoen word (verkieslik op dieselfde dag).
3 Maart 2008