Vraag:
Ek het 'n 7-jarige perd wat geel in haar bek lyk. Wat kan die oorsaak wees? Kan dit dalk van die kos wees wat ek haar gee as byvoeding? Ek het haar gister ontwurm, en haar bek het vanoggend nie meer geel gelyk nie - Marieta(marieta@ehlplatinum.co.za).
Antwoord:
Perde se slymvliese is normaalweg nie geel nie, behalwe as hulle siek is. Galkoors, leweraantasting en waar perde ophou eet (anoreksie) kan hulle slymvliese geel laat verkleur. 10% van gesonde perde het effense geel slymvliese.
Vergelyk die kleur van die oogslymvlies met die kleur van die bekslymvlies. As die bekslymvlies geel is, maar die oogslymvlies is pienk tot rooi van kleur, mag daar dalk 'n kleurstof in die kos wees wat die verkleuring veroorsaak. Indien albei slymvliese geel is, moet u veearts 'n diagnose maak.
Galkoors by perde stem baie ooreen met galkoors by honde, rooiwater by beeste en malaria by mense - met 'n paar baie belangrike verskille, natuurlik. 'n Onlangse opname het getoon dat die aantal galkoorsgevalle wat by perde behandel is, die getal aansteeklike asemhalingsiektes en gevalle van Afrika perdesiekte gekombineer, oortref het - galkoors by perde is dus moontlik meer algemeen as wat ons oorspronklik vermoed het!
Perde piroplasmose, perde babesiose en perde theileriose is 'n paar van die verskillende sinonieme vir galkoors by perde - maar vir die doel van hierdie antwoord, sal ek daarna verwys as galkoors. In Suid-Afrika word galkoors by perde veroorsaak deur twee organismes: Theileria equi (voorheen Babesia equi) en Babesia caballi. Hierdie organismes is protosoa wat hoofsaaklik deur bosluise oorgedra word. Hierdie protosoa is so klein dat hulle binne rooibloedselle lewe (wat op sigself baie klein is).
Van die twee organismes is Theileria equi by verre die mees algemene oorsaak van galkoors in die RSA. Dit veroorsaak ook 'n meer ernstige vorm van galkoors en dit het 'n sekere mate van weerstandigheid teen die middels wat gewoonlik gebruik word om galkoors te behandel, vertoon. T. equi word vernaamlik deur die rooipootbosluis (Rhipicephalus evertsi evertsi) oorgedra.
Onder normale omstandighede, word die eerste tekens 5-20 dae nadat die perd deur 'n besmette bosluis gebyt is, gesien (onthou: nie alle rooipootbosluise is noodwendig met T. equi besmet nie). Siektetekens soos koors (gewoonlik hoër as 40 grade), verlies van of verminderde eetlus, hoër as normale asemhaling (>20-25 asemhalings / minuut) en hartklop (>45-60 slae/minuut), perdemis mag kleiner en harder wees as gewoonlik.
Moontlik die belangrikste teken van bloedarmoede (lae rooibloedseltelling) kan verbloem word deur die oorlaaide aartjies in die slymvliese (vertoon rooierig) - dit is soms die reaksie op die koors, veral in akute gevalle. Die werklike kleur van die slymvliese mag wissel van bleekpienk tot bleekgeel - dit is as gevolg van die parasiet binne die rooibloedsel wat die sel vernietig - so moenie om die bos gelei word deur rooi tandvleis en ander slymvliese nie!
Soms mag die uriene donkergeel tot oranjebruin wees - dit is as gevolg van afgebreekte rooibloedselle wat opgeneem, geprosesseer en toe deur die liggaam uitgeskei is. Koliek en effe geswelde ledemate is ook siektetekens wat soms mag voorkom - so, ja, koors en bleekheid is die belangrikste siektetekens, maar dit is nie die enigste tekens nie - daarom moet 'n veearts versoek word om 'n diagnose te maak.
Waarom is uitbreke van galkoors by perde, anders as by beeste en honde, relatief onbekend - en oor die algemeen, waarom is die mortaliteit relatief laag by perde wat galkoors het, wanneer dit vergelyk word met die aantal vrektes by honde, beeste en sterftes by mense (malaria)?
Daar word vermoed dat die rede mag wees dat perde dikwels draers word van galkoors (veral T.equi) - en as gevolg daarvan word hul immuniteit op 'n gereelde basis gestimuleer, maar tydens stresvolle tye (vul, ander siektes soos perdesiekte, baie koue weer, chirurgie, reis, skou, ens.) word die immuunsisteem tydelik onderdruk wat T. equi toelaat om te reproduseer en in getalle toe te neem wat dan siekte veroorsaak.
Ongelukkig kan vullens galkoors opdoen terwyl hulle in die baarmoeder is en hulle word met galkoors gebore. Behalwe die bogenoemde geval, het vullens gewoonlik 'n nie-spesifieke, en besondere effektiewe immuniteit tot op ongeveer ses maande ouderdom - die presiese rede vir hierdie nie-spesifieke immuniteit is onbekend. Dit is verwant aan die immuniteit van die merrie, maar nie afhanklik daarvan nie.
Om 'n ongekompliseerde galkoorsgeval te behandel, behoort bevredigende resultate te lewer. Maar die perd wat galkoors het wat reeds gevorder het tot geelsug, ernstige bloedarmoede, baie donker uriene, swak reaksie op erkende medikasie, ens. benodig ongetwyfeld veeartsenykundige hulp. Die erkende behandeling vir galkoors is: diminasien (soos Berenil RTU - Intervet, G2702) wat by koöperasies en plaaswinkels verkrygbaar is, of iminokarb (soos Forray 65 - Schering Plough, G1442) wat by veeartse te kry is. Volg te alle tye die gebruiksaanwysings op die voubiljet noukeurig. Indien daar enige twyfel bestaan, moet jy nie huiwer om met jou veearts te skakel nie.
Beskadiging van lewerselle vind ook plaas nadat tetanus antitoksien gegee is (Theiler se siekte).
As perde te vet is, mag daar vet in die bloed sirkuleer wat veral in laat dragtigheid voorkom.
As galbuise geblok is bv. deur galstene, ontwikkel diere geelsug.
Swamme (Fusarium verticillioides) op voer kan lewerbeskadiging veroorsaak.
Gifplante soos Sprinkaanbos (Senecio) kan ook lewerbeskadiging veroorsaak.
4 Maart 2008