Landbou
Honde speel snaakse speletjies
Dr. QUIXI SONNTAG

Vraag:
Ek wil vandag iets sensitiefs vra. Ons het twee Jack Russells, 'n reun en 'n teef. Albei is nou 2 jaar oud. Albei is ook gekastreer, die teef op 6 maande en die reun op 8 weke (ons het hom by die DBV gekoop). Die honde is heeldag in die voorerf saam en slaap saans apart, een in die voorerf en in een die agtererf. Hulle het aanvanklik saam geslaap, maar het verskriklik baklei as dit kom by slaaptyd, daarom slaap hulle nou apart. Hulle is soggens baie bly om mekaar te sien. Hulle kry hulle kos en dan begin hulle speel. Die reun staan bo-oor die teef wat op haar rug lê en dan sal hulle mekaar lek en byt op hulle geslagsdele. Hulle doen dit net in die oggende. Deur die dag speel hulle normaalweg, blaf en slaap grotendeels. Saans sal hulle vir mekaar knor en selfs na mekaar byt as dit kom by slaaptyd. Is dit normaal? Baie dankie vir die wonderlike rubriek wat al ons vreemde vrae oor ons dierevriende beantwoord. - Huibrecht Horn (huibrechthorn@gmail.com)

Antwoord:
Honde kommunikeer met mekaar deur middel van lyftaal en feromone. Feromone is chemiese bestanddele wat hulle deur die vel en uitskeidings afskei en deur 'n gespesialiseerde reukorgaan herken. Dit is normaal vir honde om mekaar te groet deur die anus en geslagsdele te ruik en vir baie honde beteken dit nie net ruik nie, maar ook lek. So tel hulle dan die ander hond se feromone op en kan daarvolgens allerlei inligting oor die ander se hond se gedrag, geskiedenis en intensies bekom.

Die meeste van ons het al self deurgeloop met 'n hond wat ongevraagd op plekke ruik waar ons nie graag beruik wil wees nie! Dit is bloot 'n instinktiewe manier vir 'n hond om feromone te identifiseer en as hulle dit met mense doen is dit nie juis sosiaal aanvaarbaar nie, maar as honde dit met mekaar doen is dit eintlik normale hondegedrag.

Jou honde toon dus normale hondegedrag (net bietjie meer intens as meeste ander honde, maar nie abnormaal nie). Ignoreer dit net, maar as dit jou baie pla kan jy hulle aandag probeer aflei met 'n speel- of kouding. Die bakleiery saans is 'n twis oor toegang tot 'n waardevolle item (die bed, of slaapplek) en kan ook as normaal beskou word. Die manier waarop jy dit nou bestuur deur hulle apart van mekaar te laat slaap, is die regte manier. Maar as gevolg van die skeiding snags, moet hulle soggens deur die hele groet-roetine en uitruiling van feromone gaan!

  • Geskryf deur Dr. Quixi Sonntag, EduPet Veterinary Consulting, www.edupet.co.za

    12 Maart 2008