Vraag:
Is daar wetenskaplike bewyse dat Dorpers meer vatbaar is vir parasiete as ander skaaprasse? Is daar bewyse dat Dorpers 'n hoër weerstand teen bloutong het as ander skaaprasse? - Dr. Jasper Coetzee, Voermol, (jasperco@iafrica.com)
Antwoord:
In publikasies (Allonby & Preston 1977; Preston & Allonby 1979) word beskryf dat die vatbaarheid van skaaprasse vir haarwurm toeneem in die volgende rangorde:
Rooi Masai
Swartkop Persie
Merino
Dorper
Corriedale
Hampshire
In vele proewe vir wurmmiddel registrasies wat deur Van Wyk en Malan gedoen is, is daar gebruik gemaak van Dorpers, Merino's en Vleismerino's. Hierdie skape is eers skoongemaak van wurms deur hulle te doseer voordat hulle met verkeie wurmspesies besmet is. Elke skaap het dieselfde hoeveelheid besmetlike wurmlarwes ontvang. Daar is nie gevind dat een van hierdie rasse meer vatbaar is vir wurmbesmetting as 'n ander ras nie. Wat ons wel gevind het, is dat daar binne die ras skape is wat meer of minder vatbaar vir wurms is.
Wat Bloutong betref is die volgende bekend:
Bloutong word tradisioneel net as 'n skaapsiekte beskou weens die groot ekonomiese verliese wat die virussiekte in skape veroorsaak. Bloutong tas 'n wye spektrum van spesies aan. Die graad van aantasting varieer tussen spesies en rasse, asook tussen individue binne die spesies. Inheemse skaaprasse word ook minder aangetas as uitheemse rasse. Beeste en bokke kan wel Bloutong opdoen, maar kliniese tekens word selde gesien en as tekens wel voorkom is hulle milder as in skape. Bloutong kan ook voorkom in wild en daar word aangeneem dat alle herkouers vatbaar is. Kliniese tekens word nie in Afrika wildsoorte gesien nie, maar erge tekens word wel in uitheemse herkouer wildsoorte gesien. Waar vleisvreters karkasse vreet wat die Bloutongvirus bevat, het hulle die siekte opgedoen.
Bronne:
Allonby, E.W. & Preston, J.M. 1977. A comparison of the pathogenesis of Haemonchus contortus in Red Masai and Merino sheep. Proceedings of the WAAVP, 8, Sydney, 11-15 July 1977. Abstract 177.
Coetzer, J.A.W. & Tustin, R.C. 2004. Infectious Diseases of Livestock. Oxford University Press. ISBN 0 19 578202 X.
Preston, J>M> & Allonby, E.W. 1979. The influence of breed on the susceptibility of sheep to Haemonchus contortus infection in Kenya. Research in Veterinary Science, UK, 134-139.
18 Maart 2008