Landbou
Dosering van aangekoopte skape
Dr. FAFFA MALAN, prof. GARETH BATH en dr. JAN VAN WYK

Ek wil graag jou siening omtrent die dosering van aangekoopte teelramme hê. Weens die gevaar van inbring van interne parasiete wat 'n weerstand teen doseermiddels het, het ons vroeër aanbeveel dat hierdie ramme met aankoms op die plaas met 'n middel gedoseer word en dan in kwarantyn gehou word en na 14 dae weer met 'n ander aktiewe middel gedoseer word.

Wat is jou aanbeveling in die verband? - Dr Jasper Coetzee (jasperco@iafrica.com)

Antwoord:
Graag verwys ons u na die antwoord "Holistiese bestuur van interne parasiete by skape en bokke" en dan spesifiek na die opskrif; "Kwarantyn en behandeling" (antwoord 2217273 Holistiese parasietbeheer: Klik hier om die artikel te lees.

Weens die feit dat die voorkoms van weerstandbiedende inwendige parasiete in Suid-Afrika so wyd verspreid is, moet baie mooi gedink word voordat enige skaap vanaf 'n vreemde weiding in 'n kudde ingebring word. Deur net een dier met 'n nuwe stam weerstandbiedende wurms in die kudde in te bring kan vir 'n boer oneindige skade berokken.

Moenie diere aankoop en sondermeer op weiding vrylaat nie.
Plaas hulle aanvanklik onder kwarantyn in wurm-onvriendelike krale (sonder gras, anders met sementvloere)
Behandel hulle intensief. Gee drie verskillende wurmmiddelaktiewes uit 3 verskillende groepe:

Groepkode 1:

  • Generiese klas van aktiewe middels: Makrosikliese laktone
  • Voorbeelde van aktiewe molekules: Ivermektien, Doramektien en Moksidektien
  • Voorbeelde van middels: Ivotan G2858

    Groepkode 2:

  • Generiese klas van aktiewe middels: Bensimidasole
  • Voorbeelde van aktiewe molekules: Fenbendasool
  • Voorbeelde van middels: Gardal 1,9% G3200

    Groepkode 3:

  • Generiese klas van aktiewe middels: Imidatiasole
  • Voorbeelde van aktiewe molekules: Levamisool
  • Voorbeelde van middels: Nemasool NF G3312

    Groepkode 4:

  • Generiese klas van aktiewe middels: Salisielaniliede
  • Voorbeelde van aktiewe molekules: Rafoksanied, Klosantel
  • Voorbeelde van middels: Nasalcur G1831, Tri-dose oral G3103

    Groepkode 5:

  • Generiese klas van aktiewe middels: Fenole
  • Voorbeelde van aktiewe molekules: Nitroksiniel
  • Voorbeelde van middels: Trodax G1142

    Groepkode 6:

  • Generiese klas van aktiewe middels: Sulfonamiede
  • Voorbeelde van aktiewe molekules: Klorsulon
  • Voorbeelde van middels: Ivomec super G2629

    Groepkode 7:

  • Generiese klas van aktiewe middels: Organofosfore
  • Voorbeelde van aktiewe molekules: Trikloorfon
  • Voorbeelde van middels: Unidose G3078

    Groepkode 8:

  • Generiese klas van aktiewe middels: Isokinoliene
  • Voorbeelde van aktiewe molekules: Prasikwantel
  • Voorbeelde van middels: Rid-a-lint G3213

    Groepkode 9:

  • Generiese klas van aktiewe middels: Ander
  • Voorbeelde van aktiewe molekules: Piperasien ens.

    Groepe van wurmmiddel-aktiewes wat vatbare rondewurms beheer is: 1,2,3,4,5 en 7. Ander groepe beheer lewerslakwurms en lintwurms.Daar is ook kombinasie middels beskikbaar wat meer as een groep aktiewes bevat bv Nem-a-rid (G3548) wat groep3 plus groep 4 bevat. Bestudeer die aanwysings op die wurmmiddelkan en verkry advies van deskundiges voordat aankope gedoen word.

    Vir maklike identifisering van wurmmiddels is daar op elke wurmmiddelkan die groepnommer of nommers aangebring asook die aktiewe bestanddeel.

    Die keuse van watter 3 middels gebruik gaan word, sal vergemaklik word indien die weerstandsgeskiedenis van die plaas vanwaar diere aangekoop is, verkry kan word. Groepe wurmmiddels wat in skape van die plaas van oorsprong af nie behoorlik werk nie, moet van die staanspoor af nie gebruik word nie. Laat eiertellings 'n week tot 10 dae na dosering doen en spreek dringend 'n veearts indien daar na hierdie behandeling nog wurmeiers in die mis teenwoordig is.

    Plaas diere op permanente besmette weidings sodat indien daar nog 'n paar wurms na behandeling oorgebly het, hulle verdun kan word deur die plaas se wurmpopulasie.

  • Geskryf deur: dr Faffa Malan, Intervet 'n deel van Schering-Plough, prof Gareth Bath en dr Jan van Wyk van die Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria.

    9 April 2008