Landbou
Broeishen
Dr. JOHAN BREYTENBACH

Vraag:
Ek het vier koekoek hennetjies. Ons het vir 'n rukkie 'n haan gehad, maar hy het begin om die eiers te vreet en ons het 'n maand gelede van hom ontslae geraak.

Die een hennetjie het nou broeis geraak en sit vir nou amper drie weke op eiers. Sodra die ander in die hok eiers lê, sleep sy die eiers nader onder haar in. Sal die eiers uitbroei? Ek weet hoenders sit so tussen 20 en 22 dae op eiers en wil weet of ek die eiers maar liewer weg moet vat en dan 'n haan kry? - Elize Potigeter (elizepo@gmail.com)

Antwoord:
Daar hoef nie 'n haan teenwoordig te wees vir 'n hen om eiers te lê nie. Die sneller vir henne om eiers te lê hou meer verband met daglengte. Soos wat ons die somer ingaan en dae verleng, begin hulle eiers lê. Die eiers is onbevrug en sal dus nie uitbroei nie, net soos eiers wat ons in die winkel koop. (Sulke lêhenne is in hokke, geen hane by nie en daglengte word kunsmatig beheer met beligting.)

As u wil hê die hoenders moet aanteel, moet daar 'n haan vry loop tussen die henne. As 'n hen deur 'n haan gedek is, sal alle eiers wat vir ongeveer 'n week daarna gelê word, bevrug wees. Dit is dus hoogs onwaarskynlik dat die broeishen op vrugbare eiers sit.

  • Geskryf deur dr. Johan Breytenbach, Intervet 'n deel van Schering-Plough.

    15 April